Dit is ’n goeie plan om oor die naweek jou motor se tenk vol te maak, want Woensdag kom ’n enorme skok by vulstasies.

Die petrol- en dieselprys styg op 3 Februarie vir die tweede keer vanjaar. Foto: Pixabay
Petrol gaan na verwagting met 82c per liter duurder word en diesel met 59c per liter, volgens voorlopige syfers van die Sentrale Energiefonds. Paraffien gaan met sowat 60c per liter duurder word.
Die finale stygings word enige tyd verwag voordat dit op Woensdag 3 Februarie van krag word.
Die grootste rede vir duurder brandstof is ’n skerp styging in die olieprys in Januarie. Brent-ruolie, die grondslag van Suid-Afrika se brandstof, het met meer as 9% gestyg.
Die swakker rand vergeleke met Desember dra sowat 5c per liter tot die styging by.
Dit sal die tweede opeenvolgende maand wees dat brandstofpryse styg. In Januarie het 95-oktaan-petrol 43c per liter duurder geword en 93-oktaan 40c, en die groothandelprys van diesel met 54c en 55c per liter vir diesel met onderskeidelik 0,005% en 0,05% swael. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) waarsku dat Februarie se skerp styging dalk nie die laaste is nie, gegewe die voortgesette styging in oliepryse en die kwesbare rand.
“Daar was ’n stadige, maar bestendige, styging in die olieprys, wat die pyn by die pomp kan laat voortduur.”
Die styging kan selfs hoër wees as die departement van energie ’n balansheffing (slate levy) op die brandstofprys moet instel. Dit gebeur as daar gereeld groot onderverhalings op brandstofpryse is wat reggestel moet word. Die balansfondsheffing is die geld wat gebruik word om brandstofmaatskappye te vergoed vir die verskil tussen die wisselende prys wat hulle op die internasionale mark vir brandstof betaal teenoor die vasgestelde prys wat hulle plaaslik kan verdien.
Petrol kos tans R14,86 per liter in Gauteng en R14,16 aan die kus. Diesel se groothandelprys is R13 in Gauteng en R12,40 aan die kus.