Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrol, diesel: Só lyk finale dalings vir November

’n Klein bietjie verligting wag vir jou by die vulstasie as jy Woensdag of daarna volmaak. 

Die petrolprys daal in November vir die sewende keer vanjaar. Foto: Pixabay

As jy egter kosmaak met paraffien of gas, gaan jy minder breed glimlag oor die finale brandstofpryse, wat Maandagmiddag aangekondig is.

Alle grade petrol word 27c per liter goedkoper. Diesel word met tussen 11c en 12c per liter goedkoper.

Die daling word grootliks toegeskryf aan die hernude vlaag Covid-19-infeksies in Europa en die VSA, wat die vraag na brandstof vir motors en vliegtuie demp. Die effens sterker rand het egter ook gehelp.

Die nuwe pryse word op Woensdag 4 November van krag.

Volgens die departement van energie lyk die finale syfers as volg:

  • 95-oktaan- en 93-oktaanpetrol: 27c per liter goedkoper
  • Diesel met 0,05% swael: 12c per liter goedkoper
  • Diesel met 0,005% swael: 11c per liter goedkoper
  • Paraffien: 20c per liter duurder
  • Gas: 26c per liter duurder

Die bedrae vir petrol, paraffien en gas is op kleinhandelvlak, maar die bedrae vir diesel is op die groothandelprys. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.

Die dalings is die tweede agtereenvolgende daling in die petrolprys en die derde agtereenvolgende daling in die dieselprys. Dis egter die sewende maand vanjaar, uit elf, wat die petrolprys daal.

  • 95-oktaan-petrol kos vanaf Woensdag R14,59 per liter in Gauteng en R13,89 aan die kus. Dis onderskeidelik R1,71 en R1,77 goedkoper as einde 2019.
  • Die groothandelprys van diesel met 0,05% swael word nou nagenoeg R12,26 per liter in Gauteng en R11,65 aan die kus. Dis R2,27 of R2,34 goedkoper as einde 2019.

Albei die groot faktore wat Suid-Afrika se brandstofpryse bepaal – die prys van brandstof op die internasionale mark en die rand-dollar-wisselkoers – het in die afgelope vier weke in die guns van laer pryse gewerk.

Die rand het tot selfs R16,20 per dollar versterk die afgelope week. Gemiddeld was die rand R16,47 werd teenoor R16,72 in die oorsigmaand vir Oktober se brandstofpryse. Die sterker rand dra nagenoeg 7c per liter tot die laer pryse by.

Internasionale brandstofpryse het gedaal weens laer oliepryse. Bloomberg berig dat die olieprys in Oktober met die meeste in een maand gedaal het sedert Maart – die maand waarin Covid-19-infeksies die vinnigste versprei het in Europa en die VSA se eerste vlaag infeksies en toe die strengste inperkingsmaatreëls wêreldwyd.

Die vraag na sowel motor- as vliegtuigbrandstof het weer gedaal weens die nuwe vlaag en herinstelling van strenger inperkings in lande soos Brittanje en Duitsland.

Brent-ruolie, die grondslag van Suid-Afrikaanse petrol, het die afgelope maand van sowat $43 per vat tot so laag as $37 per vat gedaal.

Die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en hul bondgenote, insluitend Rusland, besluit weer einde November of hulle produksieperke gaan verslap. Gegewe die lae vraag lyk dit nou onwaarskynlik.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.