Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Goeie nuus: Slate-heffing ná net 2 maande afgeskaf

Die regering het die balansheffing (Slate-heffing) ná slegs twee maande tot 0c per liter verminder, wat meebring dat die daling in die brandstofprys in Januarie selfs groter is as die oorverhaling op brandstofpryse.

Die Sentrale Energiefonds het Vrydagoggend net voor 11:00 bekend gemaak 95-oktaan-petrol word R1,23 per liter goedkoper en 93-oktaan R1,22 per liter.

  • Die groothandelprys van diesel val met nagenoeg R1,54 (0,05% swael) en R1,56 per liter (0,005%) onderskeidelik.
  • Paraffien se kleinhandelprys val met R1,64 per liter.
  • Gas word met R1,32 per kilogram goedkoper.

Dié pryse geld vanaf Woensdag 2 Januarie.

Petrol word in Januarie goedkoper, en byna 22c per liter is danksy die afskaffing van die balansheffing, wat in November ingestel is.

Die oorverhaling op 95-oktaan-petrol was R1,00 per liter en op diesel nagenoeg R1,30 per liter.

Netwerk24 het Vrydagoggend vroeg gesê die finale syfers sal slegs verskil indien die fonds die balansheffing van 21,92c per liter verhoog of verlaag, of weens afronding.

Die balansfondsrekening is nou positief op R660 miljoen, sê die Sentrale Energiefonds. Die positiewe balans, teenoor die negatiewe balans van R2,2 miljard toe die heffing ingestel is, is vinniger uitgewis as wat Netwerk24 voorspel het.

Dis die tweede agtereenvolgende maand waarin brandstofpryse daal nadat petrol in Desember met R1,84 per liter goedkoper geword het en diesel met R1,45 of R1,47, na gelang van swaelinhoud.

Die skerp daling beteken petrol gaan in die binneland 41c per liter goedkoper wees as in Januarie 2018 en aan die kus 51c per liter. Dit beteken ook petrol het sedert November in die binneland met R3,07 per liter goedkoper geword, oftewel ’n stewige R138,15 vir ’n tenk van 45 liter.

Diesel het wel die afgelope 12 maande duurder geword, met nagenoeg 39c per liter in die binneland en 30c aan die kus, maar gaan darem R3 goedkoper wees as in November.

Verreweg die grootste rede vir die oorverhaling is die daling in internasionale oliepryse. Brent-ruolie, wat gebruik word vir die vervaardiging van Suid-Afrikaanse petrol, het Maandag kortstondig tot onder $50 per vat gedaal en het in die hele oorsigtydperk net een keer bo $60 per vat gesluit.

Die Nuwejaarspartytjie is ’n klein bietjie bederf deur die swak rand van die afgelope ruk. In die oorsigmaand het die rand selfs teen R14,64 teenoor die dollar gedraai.

En hoe lyk die vooruitsigte vir brandstofpryse vir die res van 2019?

Moet liefs nie dink die Desember- en Januarie-daling is die begin van ’n tendens nie. Op 1 Januarie word nuwe produksieperke wat die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en ander groot produsente, vernaam Rusland, beding het, van krag.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê in ’n verklaring dit lyk asof die VSA op die punt staan om ’n netto uitvoerder van olie te word. “Indien dit gebeur, sal die mag van Opul-lande om brandstofpryse te beïnvloed, aansienlik verminder, wat tot groter stabiliteit in oliepryse kan lei.”

Dis egter ’n langtermynvooruitsig, en die AA waarsku dat motoriste op kort termyn geraak gaan word deur veral die rand-dollar-wisselkoers.

“2018 het gewys presies hoe kwesbaar Suid-Afrika vir wisselkoers-wisselvalligheid is, en ons belangrikste boodskap aan die regering is om te werk om die ekonomie te stabiliseer en staatskuld te hanteer.”

’n Styging in staatskuld relatief tot die bruto binnelandse produk kan tot ’n afgradering tot volslae rommelstatus lei as Moody’s Investors Service die land afgradeer. Dit sal die rand ongetwyfeld laat verswak.

Die AA glo dat die ekonomie en beleggersvertroue in 2019 die rand gaan beïnvloed, en dat dit die grootste faktor gaan wees vir brandstofpryse.

Ontleders voorspel dat die wisselkoers besonder wispelturig gaan wees in 2019. Dit kan die rand tot selfs R12,56 laat versterk, reken Nomura, of tot R16,50 laat verswak, volgens JPMorgan Chase & Co.

Faktore soos hoe vinnig die Federale Reserweraad rentekoerse in die VSA verhoog en die handelstwis tussen die VSA en China gaan ook ’n rol speel.

Meer oor:  Aa  |  Diesel  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.