As jy eersdaags die lang pad vat om by familie te gaan kuier of see toe te gaan, is daar goeie nuus vir jou as jy jou voertuig met petrol volmaak.

Die petrolprys daal in Desember vir die agtste keer vanjaar. Foto: Pixabay
As jy ’n dieselvoertuig ry, is die nuus nou nie juis waffers nie en as jy gas by jou huis of vakansieplek gebruik, is die nuus selfs slegter.
Die departement van energie het Vrydagmiddag die finale veranderinge in Desember se brandstofpryse bekend gemaak en dit sluit ’n verhoging in die groothandelwins in. Die pryse geld vanaf Woensdag 2 Desember.
Die veranderinge in brandstofpryse lyk as volg:
- 95- en 93-oktaan-petrol: Die prys by vulstasies daal met 13c per liter. Vir die oorsigmaand was daar ’n oorverhaling van onderskeidelik 27c en 25c per liter, maar die groothandelwins word met 14,3c per liter verhoog.
- Diesel (0,05% en 0,005% swael): Die groothandelprys styg met nagenoeg 20c per liter. Dit sou met 12c gestyg het gegrond op die onderverhaling, maar die winsgrens word met byna 8c verhoog.
- Paraffien: Die kleinhandelprys van paraffien styg met 38c per liter. Dit sluit ook ’n verhoging in die winsgrens van 8c in.
- Gas: Die kleinhandelprys styg met R1,37 per kilogram.
Die sterk rand van die afgelope maand – dit het dié week selfs by R15,10 teenoor die dollar gedraai – is vir 26c per liter van die daling in die petrolprys verantwoordelik.
Omdat die olieprys die afgelope maand met byna 20% versterk het, het dit enige bydrae van ingevoerde brandstofpryse byna uitgewis.
Desember se verlaging van die petrolprys beteken vanjaar was daar agt maande waarin petrol goedkoper geword het.
Diesel het sewe maande goedkoper geword.
Altesame het die prys van 95-oktaan-petrol in Gauteng R1,84 per liter goedkoper geword (Desember se daling ingesluit) en R1,90 aan die kus. Dit kos nou onderskeidelik R14,46 en R13,76 per liter.
Diesel het altesame R2,08 per liter goedkoper geword in Gauteng en R2,14 aan die kus. Dit kos nou onderskeidelik R12,45 en R11,85 per liter.