Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Só lyk syfers vir Julie nou

Motoriste sal dalk in Julie ’n sespak biere of ’n paar ekstra tjops kan bekostig danksy die verwagte stewige daling in die petrol- en dieselprys.

Met net ’n week oor voordat die finale brandstofpryse vir Julie aangekondig word, lyk dit steeds asof petrol baie na aan R1 per liter goedkoper gaan word en diesel net ’n bietjie minder.

Dit sal die eerste daling in brandstofpryse in ses maande wees.

  • Die oorverhaling op die petrolprys beloop nou 91c per liter vir 95-oktaan-petrol en 92c vir 93-oktaan.
  • Die oorverhaling op die groothandelprys van diesel beloop nou 70c per liter vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% van 71c per liter vir 0,005%.
  • Die oorverhaling op paraffien beloop 62c per liter.

Hoeveel gaan jy bespaar?

Indien dié syfers nagenoeg onveranderd bly vir die volgende week, en jy nagenoeg twee keer per maand jou tenk van leeg af volmaak, lyk jou besparings as volg:

  • As jou motor se tenk 45 liter petrol neem en jy sowat 90 liter per maand gebruik, sal jy in Julie R81,90 (95-oktaan) of R82,80 (93-oktaan) aan brandstof bespaar.
  • Met ’n tenk van 50 liter kan jy R91 (95-oktaan) of R92 (93-oktaan) op twee tenks bespaar.
  • Mense met dieselvoertuie wat 55 liter neem, sal nagenoeg R77 (0,05% swael) en R79,20 (0,005%) bespaar indien hulle in die maand twee tenks opgebruik. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie en die daling op die groothandelprys word dalk nie ten volle deurgegee nie.

Besparings sal uiteraard wissel volgens hoeveel brandstof jy per maand gebruik en hoe groot jou tenk is.

Die eerste daling in die petrolprys in ses maande is op pad.

Die oorverhalings (dus verwagte dalings) is nagenoeg onveranderd sedert die middel van die maand. Hoewel die rand die afgelope week met meer as 4% teenoor die dollar versterk het, het internasionale brandstofpryse weer effens gestyg.

Dié twee faktore bepaal die verandering in brandstofpryse van maand tot maand.

Die oorverhaling is vir die drie weke tot Donderdag 20 Junie. Die oorsigmaand vir Julie se pryse duur tot Donderdag 27 Junie. Die nuwe brandstofpryse sal vanaf Woensdag 3 Julie geld.

Die rand het begin Junie tot selfs R15,17 teenoor die dollar verswak, maar het Donderdag tot selfs R14,20 versterk. Dit het egter steeds die oorverhaling met tussen 14c en 16c per liter verminder.

Die prys van Brent-ruolie, wat die grondslag vorm vir die brandstof wat Suid-Afrika aankoop, het Vrydag vir die eerste keer in weke weer tot bo $65 per vat gestyg. Dit word toegeskryf aan spanning in die Midde-Ooste.

Die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande vergader op 1 Julie oor hul produksieteikens.

Suid-Afrikaners kan dalk ’n bykomende bonus kry indien die Sentrale Energiefonds nie meer die Slate-heffing van 13c per liter nodig het wat in Junie ingestel is nie.

Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Sentrale Energiefonds  |  Rand  |  Koolstoftaks  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Dollar  |  Koolstofbelasting  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.