
Die prys van petrol styg wéér in Junie. Foto: Getty Images
Die petrolprys gaan dalk nie in Junie skerp styg nie – en kan selfs daal. Maar dit sal styf duim vashou oor die volgende paar weke verg.
Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds (SEF) Woensdagoggend dui op ’n oorverhaling (dus ’n moontlike daling) van byna 5c op ’n liter 95-oktaan-petrol, en ’n oorverhaling van byna 7c op 93-oktaan.
Daarteenoor is daar ’n onderverhaling van net minder as 12c per liter op die dieselprys.
By dié syfers moet egter ’n styging van 9c per liter egter getel word omdat die koolstofbelasting in werking tree, soos in Februarie aangekondig is.
Meer as twee weke bly oor voordat die brandstofpryse vir Junie vasgepen word, wat beteken daar is nog ruimte vir verandering.
Twee faktore beïnvloed plaaslike brandstofpryse: die rand-dollar-wisselkoers en internasionale brandstofpryse.
Laasgenoemde word deur oliepryse beïnvloed. Brent-ruolie, waarvan Suid-Afrikaanse petrol gemaak word, het sedert Desember van $50 per vat tot $71,80 Maandag gestyg, maar die styging is wel aan die verlangsaam.
Lees ook: Olieprys: Dié 3 faktore trek nou tou
Aan die kus kos 95-oktaan-petrol tans R16,03 en R16,48 in Gauteng. In Oktober 2018 het die prys sy hoogste vlakke nóg behaal en in Gauteng was dit R17,08.
Paraffien, wat baie gebruik word vir verhitting in Suid-Afrika wanneer die koue wintermaande tref, sal ook met sowat 9c duurder word, volgens die jongste skattings.
Die pryse vir Junie word op Vrydag 31 Mei vasgepen en geld vanaf Woensdag 5 Junie.