Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Hier is finale styging op 1 Julie

Dit gaan jou in Julie baie na aan R100 méér kos om jou motor se tenk vol te kry.

Die petrolprys styg vir die tweede maand agtereenvolgens.

Die prys van 95-oktaan-petrol styg Woensdag waarskynlik met R1,72 per liter en diesel met 0,05% swael met R1,73.

Geen balansheffing is vir die staatsoliefonds (die sogenaamde Slate-heffing) in gestel weens die agtereenvolgende skerp stygings in brandstofpryse nie.

Dis die tweede opeenvolgende maand wees waarin brandstofpryse duurder word nadat petrol in Junie R1,18 per liter duurder geword het en diesel met 21c of 22c, na gelang van swaelinhoud.

Mense wat gas vir kook of verhitting gebruik, kry ook ’n groot skok - dit word R4,48 per kilogram duurder.

Die nuwe brandstofpryse word op Woensdag 1 Julie van krag.

Die volledige stygings vir Julie se brandstofpryse lyk as volg:

  • 95-oktaan-petrol: R1,72 per liter
  • 93-oktaan-petrol: R1,63 per liter
  • Diesel (0,05% swael): R1,73 per liter
  • Diesel (0,005% swael): R1,69 per liter
  • Paraffien: R2,85 per liter
  • Gas: R4,48 per kilogram

Die stygings vir diesel is op die groothandelprys, aangesien die kleinhandelprys van diesel nie gereguleer word nie.

Daar is plek-plek ’n dieseltekort in die binneland, juis terwyl somergraanboere begin oes.

LEES OOK: Dieseltekort: Rantsoene ingestel – voor prys styg

Die effens sterker rand het die afgelope maand gekeer dat pryse met nóg tot 34c per liter styg. Die geldeenheid het op 9 Junie op sy beste vlak in drie maande, R16,53, teenoor die dollar gesluit.

Die gemiddelde waarde van die rand teenoor die dollar was R17,18 teenoor die vorige oorsigmaand se R18,17.

Aan die ander kant is oliepryse sedert April geleidelik aan die styg, deels aangedryf deur die groter stygende vraag na brandstof danksy die heropening van ekonomieë wêreldwyd soos hulle die piek van die Covid-19-pandemie oorsteek.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê die herstel van oliepryse was net so merkwaardig as die skerp val vroeër vanjaar. Die basiese prys vir petrol en diesel in Suid-Afrika (voor winsgrense, heffings, bergings- en vervoerkoste) het van sowat R3 per liter op 1 Mei tot R6 per liter teen 25 Junie gestyg.

Die AA sê as die rand nog op vlakke van voor Suid-Afrika se afgradering op 27 Maart was, sou petrol goedkoper geword het, selfs ondanks die styging in oliepryse. 

Oor die balansheffing

Brandstofpryse word in Suid-Afrika een keer per maand vasgestel, maar brandstofmaatskappye voer daagliks brandstof in, teen wisselende pryse.

As hulle op die ope mark méér vir brandstof moet betaal as wat hulle plaaslik verdien, kan hulle aan die einde van die maand ’n eis teen die staatsoliefonds se heffingsrekening instel om hulle hiervoor te vergoed.

In tye waarin die prys konstant styg, sal die fonds ’n negatiewe balans ontwikkel, wat dan verhaal moet word met die balansheffing.

As die balansheffingsrekening meer as R250 miljoen in die skuld is, word ’n balansheffing ingestel. Sodra die balansheffingsrekening weer tot -R250 miljoen daal, val die heffing weg.

Die waarde van die heffing word volgens ’n formule bereken om te verseker dat dit nooit langer as ses maande duur om die rekening by -R250 miljoen of kleiner te kry nie.

Die vorige keer toe ’n balansheffing ingestel is, was in November 2018. Die heffing van net minder as 22c per liter het twee maande lank gegeld.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Dieseltekort  |  Brandstof  |  Diesel  |  Slate-Heffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.