Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Só lyk vooruitsig vir November

Hoewel die rand op die oomblik in motoriste se guns tel, beteken die hardnekkige styging in internasionale oliepryse dat die petrolprys in November wéér heelwat sal styg.

Daar is geen genade vir motoriste in November nie.

Volgens die Outomobiel-Assosiasie (AA) is dit moontlik dat die spanning om Saoedi-Arabië, die wêreld se grootste olieprodusent, die olieprys sal opjaag.

Veral mense wat diesel moet koop, gaan swaar trek in November.

Volgens die Sentrale Energiefonds se syfers is die onderverhaling (dus styging) vir November nou reeds nagenoeg 70c per liter.

Die onderverhaling op 95-oktaan-petrol is 40c per liter.

Arm mense wat paraffien vir verhitting of kook gebruik, gaan 65c per liter meer daarvoor moet opdok as niks verander van nou tot einde Oktober nie.

Die onderverhalings word daagliks bygewerk en kan nog heelwat verander totdat die prys op 2 November vasgestel word. Die brandstofpryse verander op Woensdag 7 November.

Daar is ’n mate van onsekerheid oor die petrolprys met dié dat Jeff Radebe, minister van energie, verlede week gesê het hy wil ’n ander meganisme daarstel, naamlik dat ’n maksimum prys op petrol vasgestel word eerder as een kleinhandelprys.

Lees ook: Maksimum prys vir petrol: Wie gaan dan betaal?

Wetgewing sal egter eers herskryf moet word voordat so ’n stelsel van krag kan word en ekonome is maar skepties of dit sal werk, gegewe die gebrek aan mededinging in die plaaslike brandstofmark.

Lees ook: Petrolprys: Mike Schüssler, Dawie Roodt gee raad

Die AA sê indien dit deurgevoer word, sal vulstasies pryse kan verlaag, wat potensieel die druk op verbruikers kan verlig.

“Dit moet egter beklemtoon word dat ons nie deelgeneem het aan die opstel van die konsepvoorstel nie, so die besonderhede oor hoe dit in werking gestel gaan word, bly vir ons onduidelik.”

Die AA verwelkom egter die regering se pogings om die styging in brandstofpryse te takel.

Insette word op die oomblik van die bedryf ingewag.

Die land kan nie meer die groot stygings in brandstofpryse verduur sonder dat dit uitkring na die hele ekonomie nie. Dit kan onder meer taxitariewe skerp laat styg.

“Ons doen weer ’n beroep op die regering om ekonomiese beleid te prioritiseer wat beleggersvertroue versterk. ’n Sterker en stabieler rand is die land se enigste verweer teen die nukke van die internasionale olieprys.”

Meer oor:  Aa  |  Diesel  |  Sentrale Energiefonds  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.