Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Kans vir daling in Augustus al hoe skraler

Die kans dat petrol in Augustus vir die tweede maand agtereenvolgens gaan daal, begin al hoe skraler lyk.

Tyd is dié maand nie motoriste se vriend nie. Foto: Pixabay

Die onderverhaling - dus potensiële styging - op die petrolprys is besig om vinnig te styg. Nie eens as die regering die heffing vir die staatsoliefonds (die sogenaamde Slate-heffing) laat vaar, sal petrol goedkoper word indien dit vandag vasgestel sou word nie.

Met twee en ’n half weke nog oor van die oorsigmaand vir Augustus se brandstofpryse lyk dinge maar droewig vir motoriste met petrolmotors.

Daar is wel goeie nuus vir mense met dieselvoertuie, maar selfs hier is tyd nie motoriste se vriend nie.

Teen Maandagoggend was daar ’n onderverhaling van nagenoeg 7c per liter op 95-oktaan-petrol en van 4c per liter op 93-oktaan-petrol. ’n Onderverhaling impliseer ’n styging, maar die syfers word daagliks bygewerk tot die einde van die oorsigmaand op 1 Augustus. Die styging was teen Vrydag net 2c per liter.

Vir diesel beloop die oorverhaling Maandagoggend 19c of 20c per liter, na gelang van swaelinhoud. Vrydag was dit nog 22c of 23c per liter. ’n Oorverhaling dui potensieel op ’n daling indien dit tot 1 Augustus kan voortduur.

Die Outomobiel-Assosiasie sê die syfers in die middel van die maand is gewoonlik ’n goeie aanwyser van wat aan die einde van die maand gaan gebeur, “maar die huidige politieke en ekonomiese aandrywers van sowel die wisselkoers as die olieprys is hoogs vloeibaar.

“Ons beskou die syfers as bloot aanduidings in dié stadium, en prakties gesproke kan die prentjie later heelwat verskil van die huidige vooruitsig.”

Slate-heffing

Die Slate-heffing is op die oomblik net 4,38c per liter. Dit lyk egter nie meer asof dit gaan help om die petrolprys te laat daal indien die heffing wegval nie.

Dit kan wel die daling in die dieselprys vergroot.

Die heffing word ingestel indien die fonds meer as R250 miljoen in die rooi is, wat ná ’n volgehou skerp styging in pryse kan gebeur.

Die staatsoliefonds was begin Julie R469 miljoen, nadat ’n heffing van 13,16c per liter in Junie gegeld het om die fonds se negatiewe balans van R1,4 miljard te verminder.

Die staatsoliefonds is die fonds waaruit brandstofmaatskappye betaal word indien hulle deur die loop van ’n maand méér vir brandstof moet betaal as wat hulle dit op ’n ongereguleerde mark sou kon koop. Hulle moet op hul beurt die fonds terugbetaal indien hulle minder betaal as wat brandstof op die ope mark kos.

Rand

Die rand was Maandagoggend steeds stewig onder R14 per dollar op sowat R13,91, nadat dit Donderdag tot selfs R13,87 teenoor die dollar versterk – ’n vlak wat laas in Februarie behaal is. Dis danksy seine van die Amerikaanse Federale Reserweraad dat hy dalk dié week die rentekoers gaan verlaag. As die rentekoers wel daal, behoort die rand selfs verder te versterk.

Sonder die sterker rand sou die onderverhaling (styging) op 95-oktaan-petrol al 34c per liter beloop het, en sou daar ’n onderverhaling van sowat 7c of 8c per liter op diesel gewees het.

Oliepryse

Aan die ander kant van die toutrekkery het oliepryse verlede week hul sterkste styging in drie weke getoon weens spanning in die Midde-Ooste en ’n daling in Amerikaanse ruolievoorrade. Die tropiese storm Barry het produksie in Louisiana meer as gehalveer, berig Bloomberg.

Brent-ruolie kos nou nagenoeg $66,79 per vat.

Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.