Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Só staan sake nou vir Julie

Jy kan maar dreig om jou hoed op te eet as petrol in Julie goedkoper word.

Hoewel daar op die oomblik nog ’n oorverhaling (dus moontlike daling) op die petrolprys is, is dit ’n skrale 3c per liter op 95-oktaan-petrol en net 1c per liter op 93-oktaan-petrol.

Mense met dieselvoertuie moet maar begroot vir nóg duurder brandstof.

Dis volgens die Sentrale Energiefonds se syfers vir die eerste helfte van die oorsigmaand vir Julie se brandstofpryse.

Die twee belangrikste faktore wat die pryse bepaal, gaan dalk albei teen motoriste tel.

Die rand-dollar-wisselkoers is een daarvan. Die rand het Woensdag vir die eerste keer sedert 19 Mei bo R14 per dollar gesluit.

Die ander faktor is die prys van olie op internasionale markte en ook dít is aan die styg.

Dis boonop so seker soos môre heeldag dat diesel duurder gaan word. Die onderverhaling is reeds tussen 20c en 21c per liter.

Dis nog goed 15 dae voordat die finale stand van sake bekend sal wees. Die oorsigmaand vir Julie se brandstofpryse duur tot Donderdag 1 Julie en die nuwe pryse word op Woensdag 7 Julie van krag.

Indien petrol goedkoper word, sal dit die derde opeenvolgende maand wees wat dit gebeur, maar die totale dalings sal steeds minder wees as die totale stygings vir 2021 tot dusver.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) is egter pessimisties oor die vooruitsig vir Julie en verwag dat die prys van alle soorte brandstof uiteindelik sal styg, in die lig van die verswakking in die rand en die volgehoue styging in internasionale oliepryse.

In die eerste ses maande van die jaar het 95-oktaan-petrol R2,67 per liter duurder geword in Gauteng en R2,65 per liter aan die kus. Dit kom neer op R133,50 per tenk van 50 liter petrol in Gauteng en R132,50 aan die kus.

95-oktaan-petrol kos nou R17,13 per liter in Gauteng en R16,41 aan die kus.

Die groothandelprys van diesel met 0,05% swael het die afgelope ses maande in Gauteng met R2,22 per liter gestyg en aan die kus met R2,20. Dit kom neer op R111 per tenk van 50 liter in Gauteng en R110 aan die kus. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie, wat beteken dit kan van vulstasie tot vulstasie wissel.

Diesel met 0,05% swael kos nou afgerond R14,67 per liter in Gauteng en R14,05 aan die kus. Dis die groothandelpryse.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.