Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Só staan sake vir eers vir Maart

Die sterker rand kan in Maart ’n bietjie doepa wees teen die skok by die petrolpomp, maar dit gaan heelwat duim vashou kos.

Dit lyk steeds na ’n gegewe dat brandstof volgende maand weer duurder gaan word, maar danksy die sterker rand gaan die styging hopelik minder wees as in Februarie.

Met die eerste twee weke van die vierweek-oorsigtydperk vir Maart se brandstofpryse nou verby, lyk die onderverhalings as volg:

  • 95-oktaan-petrol: 56c per liter
  • 93-oktaan-petrol: 54c per liter
  • Diesel met 0,05% swael: 45c per liter
  • Diesel met 0,005% swael: 47c per liter
  • Paraffien: 40c per liter

Die onderverhalings is met hoeveel brandstof duurder sou word indien dit vandag vasgestel word. Die pryse is kleinhandelpryse vir petrol en paraffien, maar groothandelpryse vir diesel, aangesien die kleinhandelprys van diesel nie gereguleer word nie.

Petrol (95-oktaan) kos op die oomblik R15,67 in Gauteng en R14,97 aan die kus. Diesel (0,05% swael) se groothandelprys is R13,55 in Gauteng en R12,98 aan die kus.

As die rand nie die afgelope twee weke met 4,5% – van R15,22 tot R14,56 – teenoor die dollar versterk het nie, sou brandstofpryse met nog nagenoeg 8c per liter meer moes styg.

Die rand het Vrydag op R14,56 teenoor die dollar gesluit, die beste vlak sedert 20 Januarie 2020. Dit het Maandag selfs verder veld gewen en die oggend R14,50 gehaal.

Petrol het in Januarie met 40c (95-oktaan) en 43c (93-oktaan) per liter duurder geword, wat die totale styging vir 2021 reeds op R1,21 (95-oktaan) en R1,24 (93-oktaan) per liter te staan bring.

Diesel het in Januarie met 55c (0,05% swael) en 54c (0,005% swael) duurder geword, wat die totale styging vir 2021 vir albei grade op R1,13 te staan bring.

Die rede vir Maart se verwagte duurder brandstof is omdat internasionale brandstofpryse aan die styg is soos wat ekonomieë geleidelik ná die streng inperkings vir die Covid-19-pandemie weer oopgestel word. Die prys van Brent-ruolie het die afgelope twee weke met 14,4% – van $55,53 per vat tot $63,52 per vat – gestyg.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.