Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Sterkste rand in 9 maande help motoriste

Hoop dat ’n entstof teen die nuwe koronavirus binnekort gevind kan word en die wêreldekonomie danksy dit weer op dreef kan kom, het die olieprys pas tot die hoogste vlak in byna nege maande laat styg.

Fuel consumption showing empty petrol tank. (Photo
Dis betaaldag, en as jy ’n dieselvoertuig ry, is dit dalk ’n goeie plan om voor Woensdag vol te maak. Vir petrol kan jy probeer uitstel. Foto: Getty Images

Dis kommerwekkende nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste, wat teen Vrydag sal weet wat hulle in Desember vir brandstof sal betaal.

Soos in die middel van die maand is daar darem nog ’n verwagting van ’n stewige daling in die petrolprys. Die klein oorverhaling op die dieselprys is intussen uitgewis en mense met dieselvoertuie sal ’n styging moet absorbeer, hoewel dit darem nie te erg lyk nie.

Teen Woensdagoggend was die oorverhaling (dus daling indien dit vandag vasgestel word) op die kleinhandelprys van 95-oktaan-petrol nagenoeg 30c per liter en op 93-oktaan-petrol 28c per liter.

Die onderverhaling (dus styging) op die groothandelprys van diesel is net minder as 8c per liter. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.

Die nuwe brandstofpryse vir Desember sal aangekondig word voordat dit op Woensdag 2 Desember van krag word.

Brent-ruolie, die basiese bestanddeel van plaaslike petrol, het Woensdagoggend by $48,75 per vat gedraai nadat dit Dinsdag in New York op $47,80 gesluit het. Dis die hoogste sluitingsprys sedert 5 Maart, byna nege maande gelede.

Die grootste rede waarom die petrolprys in Desember gaan daal, is die versterking van die rand die afgelope tyd – ook iets wat toegeskryf word aan optimisme oor Covid-19-entstowwe.

Daarby het die rand Dinsdag voordeel getrek daaruit dat die administrasie van pres. Donald Trump uiteindelik begin het met die oorhandigingsproses aan Joe Biden, hoewel Trump self steeds nie toegegee het dat hy die presidentsverkiesing verloor het nie.

Die rand het Dinsdag in Suid-Afrika op R15,21 gesluit en selfs laer, op R15,19, in New York. Dis die laagste sluiting sedert 24 Februarie, nege maande gelede. Dit dra in dié stadium 24c per liter tot die oorverhaling van petrol by; daarsonder sou diesel 32c per liter duurder moes word.

Volgens André Botha van TreasuryOne was die rand Dinsdag die ontluikende geldeenheid wat die beste gevaar het. Aandelemarkte het ook skerp gestyg, en die S&P 500-indeks van die grootste firmas in Amerika het ’n rekord behaal.

Die styging in oliepryse is intussen effens getemper deur nuus dat Amerika se olievoorraad vir die derde week in ’n ry gestyg het.

Die Brent-olieprys het in November met nagenoeg 18% gestyg.

Meer oor:  Olieprys  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.