Die petrolprys wat Woensdag 5 Desember met R1,84 per liter verlaag word bring verligting vir die vakansiebegrotings van motoriste wat eersdaags die langpad wil vat.

Brandstofpryse daal Woensdag skerp. Foto: Jonathan Lestrade
Netwerk24 jonathan lestrade
Die departement van energie het laat Saterdagaand aangekondig petrol word op die eerste Woensdag van Desember R1,84 per liter goedkoper danksy laer internasionale produkpryse en ’n sterker randdollarwisselkoers.
Diesel se groothandelpryse word met R1,45 verlaag vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% en met R1,47 vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,005%.
Paraffien se maksimum kleinhandelprys word met R1,78 per liter verlaag en die van vloeibare petroleumgas (VPG) met R2,43 per kg.
Volgens die werklike oorverhalingsyfers sou petrol met R1,92 per liter goedkoper kon word en diesel met R1,50. Maar die departement het die jaarlikse aanpassings in gereguleerde winsmarges vir die vulstasiebedryf en groothandelaars in hierdie prysaanpassings ingewerk. Die kleinhandelwinsmarge op petrol is met 5,9c tot R1,98 per liter verhoog. Die groothandelwinsmarge op petrol is met 0,8c tot 34,8c per liter verhoog, en die groothandelwinsmarge op diesel met 3,59c per liter tot 71,25c per liter.
’n Netto aanpassing van 1c per liter is ook gemaak aan die kostestruktuur vir brandstofverspreiding en opgaartenks.
Die stewiger randdollarwisselkoers oor die vorige maand het gesorg vir 18c tot 21c van die daling.
Petrol aan die kus sal voortaan R14,65 per liter kos, en 95-oktaan petrol in Gauteng sal R15,24 kos. Petrol van 93-oktaan in Gauteng sal R15,01 per liter kos.
Diesel se groothandelprys is voortaan R14,67 in Gauteng en R14,18 aan die kus.