Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Val van olieprys help dalk nié jou sak
Die daling in die prys van olie gaan nie noodwendig beteken brandstof gaan ook goedkoper word nie.

Suid-Afrikaners kan in April ’n daling in brandstofpryse verwag as die skerp val in oliepryse en internasionale brandstofpryse voortduur.

Wat teen plaaslike brandstofpryse tel, is die ewe swakker rand, wat ’n deel van die voordeel van laer oliepryse teenwerk.

Die jaarlikse verhoging van brandstofheffings, vanjaar altesame 25c per liter, gaan ook ’n deel van die voordeel van laer oliepryse uitkanselleer.

Tans is daar ’n gemiddelde oorverhaling van 64c per liter op petrol, en 78c op diesel. As markfaktore stabiel bly vir die res van die oorsigtydperk, tot 26 Maart, kan petrol dus teoreties met 64c per liter daal en diesel met 78c.

Maar die verhoging van 16c in die brandstofheffing en 9c in die Padongelukfondsheffing sal die daling waarskynlik dan tot 39c vir petrol en 53c vir diesel beperk.

Dit is nog geraamde syfers, en met die huidige erge wisselvalligheid in die finansiële markte sal enige veranderings van nou tot 26 Maart in die rand-dollar-wisselkoers, asook veranderings in internasionale brandstofpryse die finale syfers bepaal.

Brent-ruoliepryse was teen Maandagmiddag 22% laer op $35,26 per vat. Oliepryse was vroeër die jaar nog so hoog as $68 per vat.

Oliepryse het sedert Vrydag met meer as 31% geval in die grootste enkele daling sedert die Golfoorlog in 1991.

Oliepryse het reeds sedert einde verlede jaar gedaal as reaksie op ’n verwagte demper op die wêreldekonomie weens die koronavirus.

olieprys

Maar die groot vonk in die kruitvat was die naweek toe Rusland en die Organisasie van Petroleumuitvoerlande nie in Wene, Oostenryk, saam kon stem met hoeveel olieproduksie gesny moet word om oliepryse te ondersteun nie. Rusland wou nie toegee aan Saoedi-Arabië se versoek dat hy deel word van ’n ooreenkoms om 1,5 miljoen vate te sny nie, en ’n verlenging van die bestaande produksieperk kon ook nie beklink word nie.

Saoedi-Arabië het Rusland se koppigheid beantwoord met ’n skerp verlaging van pryse aan sy kliënte, wat ’n prysoorlog in die oliemark ontketen het.

Internasionale brandstofpryse het ook Maandag op die Nymex-beurs in New York skerp geval, maar nie so skerp soos ruoliepryse nie. Petrolpryse op die Nymex-beurs was 17% laer, en verhittingsolie en gasolie – min of meer dieselfde as diesel – was sowat 15% laer. Amerikaanse ruoliepryse was 22% laer op $32 per vat.

Meer oor:  Olieprys  |  Petrolprys  |  Brandstof  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.