Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrol, diesel goedkoopste in byna 4 jaar!

Die finale brandstofpryse vir Mei is bekend gemaak - en dis goeie nuus, al mag jy nie ver ry in vlak 4 van die nasionale inperking nie.

Alle soorte brandstof word met ’n stewige bedrag goedkoper. Só daal pryse:

  • Petrol (alle grade): R1,73 per liter
  • Diesel met 0,05% swael: R1,61 per liter
  • Diesel met 0,005% swael: R1,56 per liter
  • Paraffien: R2,97 per liter
  • Gas: R2,62 per kilogram

Al die dalings met die uitsondering van diesel is dít wat motoriste aan hul sak sal voel - dis die kleinhandelpryse. Die daling in die dieselprys is vir die groothandelprys. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.

Die pryse word op Woensdag 6 Mei van krag. Vulstasies is oop ongeag die inperking.

Die dalings beteken petrol is byna so goedkoop soos in September 2016 en diesel soos in Desember 2016 - byna vier jaar gelede.

Die daling is ook goeie nuus vir vervoermaatskappye en boere, en beteken vervoerkoste sal nie die kos, klere, komberse, verwarmers, skryfbehoeftes en ysterware wat verbruikers nou mag koop, duurder maak nie. Ander faktore wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak word - soos probleme met internasionale verskaffingskettings - kan dalk wel pryse opdruk.

Twee faktore bepaal Suid-Afrika se brandstofpryse: internasionale olie- en brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers. 

Internasionale oliepryse het die afgelope ruk in duie gestort omdat die vraag na brandstof te midde van Covid-19-inperkings so skerp gedaal het. Suid-Afrika voer sowel olie as vervaardigde brandstowwe in. Brent-ruolie het die afgelope maand selfs onder $20 per vat gedraai en sou Vrydagoggend nagenoeg $25,99 kos.

Die rand het die potensiële daling weens laer oliepryse teengewerk. Die rand was in die oorsigtyd vir Mei se pryse (27 Maart tot 29 April) gemiddeld R18,48 per dollar, teenoor R16,43 in die vorige oorsigtyd. Dié verswakking van meer as R2 per dollar het die petrolprys 34c per liter duurder gemaak, diesel 42c per liter en paraffien 30c per liter.

Dis die vyfde opeenvolgende maand dat petrol goedkoper word en die vierde maand vir diesel.

95-oktaan petrol kos nou R12,22 per liter in Gauteng en R11,52 aan die kus. Diesel (0,05% swael) kos nou R11,09 per liter in Gauteng en R10,48 aan die kus.

Sedert die begin van die jaar het 95-oktaan-petrol in Gauteng al R4,08 per liter goedkoper geword en aan die kus R4,14. Dit beteken ’n stewige besparing op ’n tenk - R204 in Gauteng (kus: R207) vir ’n tenk van 50 liter.

Wat diesel betref, kos dit reeds nagenoeg R3,44 per liter goedkoper in Gauteng en R3,51 aan die kus. Dit beteken die totale daling vir die jaar maak ’n tenk van 50 liter R172 goedkoper in Gauteng (kus: R175,50).

Meer oor:  Olieprys  |  Koronavirus  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie  |  Diesel  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.