Binnelanders wat vanjaar in die Kersvakansie die lang pad see toe aandurf, gaan minstens R400 minder aan brandstof bestee as verlede Desember.

Dis lekker by die see - en goedkoper om daar uit te kom. Foto: Pixabay
pixabay
Dis danksy sewe verlagings in sowel die petrol- as dieselprys vanjaar en die moontlikheid van ’n agtste verlaging in Desember.
Teen Vrydag, die nuutste syfers wat bekend is, was daar ’n afgeronde oorverhaling – dus ’n daling indien die prys nou vasgestel word – van 37c per liter op die kleinhandelprys van 95-oktaan-petrol en van 6c per liter op diesel se groothandelprys.
Die syfers word elke weekdag bygewerk en nog tien dae bly oor voordat die syfers vir die hele oorsigtydperk vir Desember bekend is.
Die kans dat die petrolprys sal daal, is dus baie hoog, maar ’n oorverhaling van net 6c maak die dieselprys nog baie onseker.
Indien die faktore wat plaaslike brandstofpryse bepaal, nog twee weke lank min of meer onveranderd bly, sal die totale daling in die petrolprys vanjaar R2,08 per liter vir binnelanders wees, en die totale daling in die dieselprys R2,33 per liter.
Op 200 liter – waarskynlik die minimum wat nodig sal wees vir ’n vakansie by die see as jy van ver af kom – sal motoriste dan R416 tot R466 minder aan brandstof opdok as ’n jaar gelede. Die syfer sal uiteraard afhang van die afstand wat afgelê word en die brandstofdoeltreffendheid van die voertuig. Laasgenoemde word op sy beurt beïnvloed deur hoe vinnig mense ry, hoe swaar hul voertuig gelaai is en faktore wat windweerstand bepaal, soos daardie fiets of kajak op die dag.
In dié stadium is nagenoeg 17c per liter van die oorverhalings danksy die sterker rand. Sedert dit duidelik geblyk het Joe Biden gaan Amerika se nuwe president word in die plek van Donald Trump – hoewel Trump dit nog nie self erken het nie – het die rand tot selfs R15,21 teenoor die dollar versterk, maar dit het sedertdien teruggesak tot R15,51. Dis egter steeds aansienlik sterker as die gemiddeld van R16,47 wat November se brandstofpryse help bepaal het.