Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Wat die swak rand vir jou beteken
Daar is 'n kans dat die petrolprys weer kan styg weens die handelsoorlog tussen Turkye en die VSA.

Dis nie altyd lekker om reg te wees nie – veral nie as dit jou eie sak raak nie.

Netwerk24 se voorspelling Maandag dat die skerp verswakking in die rand die totale oorverhaling op brandstofpryse gaan omkeer in ’n onderverhaling, het toe inderdaad teen sluitingstyd Dinsdag gebeur.

Dit beteken die handelsoorlog tussen Turkye en die VSA – wat die rand Maandagnag tot selfs R15,41 per dollar laat verswak het – gaan ’n regstreekse uitwerking op Suid-Afrikaners hê. Die rand het Maandag in die omgewing van R14,30 per dollar verhandel, steeds nagenoeg 60c swakker as verlede week.

Volgens die Sentrale Energiefonds se jongste syfers is daar weens die swakker rand nou ’n onderverhaling – dus ’n verwagte styging – van tussen 1c en 2c per liter op diesel en petrol. Dít teenoor die oorverhaling van tussen 5c en 10c per liter wat nog einde Vrydag gegeld het en die hoop laat opvlam het dat die petrolprys vir die eerste keer in ses maande in September sou daal.

Dis ’n lang oorsigmaand van vyf weke en baie kan nog gebeur tussen nou en die laaste dag van die oorsigmaand, 30 Augustus. Die brandstofpryse vir September word dan op Vrydag 31 Augustus uitgereik en geld van Woensdag 5 September.

In dié stadium is die gemiddelde olieprys effens laer as in die vorige oorsigmaand – dit is dus slegs die rand wat tot die onderverhaling bydra.

Daar is steeds ’n oorverhaling van 6c per liter op paraffien, wat arm huishoudings gebruik om mee te kook of vir lampe, maar dié oorverhaling krimp ook. Dit was Vrydag nog 13c per liter.

Ontleders waarsku dat die rand nog lank wisselvallig gaan bly weens die handelsoorlog.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het namiddag gesê die uiteindelike petrolprys vir September sal grootliks bepaal word deur faktore buite Suid-Afrika se beheer.

“Turkye weerstaan strenger monetêre beleid (rentekoersverhogings) en doen niks om die dooie punt met die VSA te beëndig oor die aanhouding van een van die VSA se burgers nie.

“Die tendens dat beleggers ontluikende lande as ’n enkele mandjie beskou, beteken dat nog slegte nuus uit Istanbul waarskynlik sleg vir die rand en vir Suid-Afrikaners gaan wees.”

Die AA raai motoriste aan om te bespaar waar hulle kan gegewe die onsekere vooruitsig oor die rand.

“Die omvang en duur van die onlangse geldeenheidiswakheid sal beslissend wees vir die korttermyn-brandstofprysvooruitsig.”

Meer oor:  Rand  |  Petrolprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.