Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petroltekort dreig omdat raffinaderye sluit

Sasol het amptelik ’n “noodtoestand” by sy brandstofraffinadery in Sasolburg verklaar omdat die voortslepende geweld al hoe nader kruip.

Motoriste skarrel Dinsdag om hul petroltenks vol te maak by die Shell-vulstasie in Melville, Johannesburg, soos gerugte aanhou versprei dat daar komende tekorte aan brandstof op pad is weens die voortslepende geweld in die land. Foto: William Horne

Dit beïnvloed rééds die aflewering van petrol aan vulstasies landwyd.

Sasol sê aan Netwerk24 dat hy protokol ingestel het om sy bates te beskerm. Verskeie ondernemings in Durban word steeds geplunder of aan die brand gesteek – en ’n brand sal ’n ramp meebring by ’n raffinadery.

“Ons het ons noodreaksieprotokol in ons verskillende fasiliteite geaktiveer en werk saam met wetstoepassingsagentskappe om te verseker dat ons mense, eiendom en infrastruktuur beskerm word,” sê ’n woordvoerder.

“Die veiligheid en welstand van ons werknemers en diensverskaffers is van die grootste belang.”

Hy bevestig dat ’n paar van sy vulstasies reeds geteiken is deur die geweld, wat Vrydag vlamgevat het en in Suid-Afrika versprei.

Dit gaan ook ’n groot invloed hê op aflewerings van brandstof aan verskeie vulstasies landwyd.

Sasol sê die meeste van sy fasiliteite bly vir eers nog in bedryf, maar hy gaan sukkel om aflewerings van brandstof te doen omdat talle hoofweë gesluit bly en swerwende bendes die paaie onveilig maak vir sulke hoërisikovragte. Teen Maandag is meer as 30 algemene vragmotors deur die vandale uitgebrand.

Netwerk24 het ook verneem dat BP se raffinadery in Durban gesluit het weens die geweld. BP se woordvoerder kon nie bereik word om dit te bevestig nie, maar verskeie BP-vulstasies het bevestig dat hulle kommunikasie van die hoofkantoor af ontvang het wat dui op komende tekorte.

’n Bestuurder van die BP Express in Vrededorp in Johannesburg wat naamloos wil bly, sê hy het Dinsdag ’n e-pos van BP ontvang wat sê hy “moenie aflewerings verwag nie”.

Die geweld maak dit doodeenvoudig te gevaarlik om met plofbare vrag op die land se hoofweë te ry.

Hennie Maree, bestuurder van die Big Bird Engen op die N1 tussen Johannesburg en Midrand, sê hy verwag groot tekorte van brandstof in die volgende paar dae.

Sy eie tenks is “gelukkig” nog vol brandstof, maar hy sê omdat die meeste van sy aflewerings van Durban se raffinaderye kom, sal dit ontwrig word.

“Ek verwag dat daar vertragings op pad is,” sê Maree.

Sasol sê hy het as voorsorgmaatreël verskeie van sy vulstasies gesluit in ’n poging om sy werknemers te beveilig.

“Die ontvouende situasie bly baie wisselvallig en onseker. Ons sal voortgaan om die ontwikkelinge dop te hou en te monitor om te verseker dat ons al die nodige voorsorgmaatreëls tref om ons mense te beskerm, met die mees volgehoue besigheidskontinuïteit wat ons kan handhaaf.”

Meer oor:  Bp  |  Sasol  |  Engen  |  Vervoer  |  Plundery En Geweld  |  Zuma-Betogings  |  Petrol  |  Brandstof  |  Raffinadery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.