Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
PetroSA soek gas vir Mosselbaai

PetroSA het ’n tenderdokument uitgestuur om vloeibare aardgas (LNG) te koop sodat sy gas-tot-brandstofaanleg buite Mosselbaai langer kan oorleef.

PetroSA is onder druk weens die kwynende aardgasbronne aan die Suid-Kaapse kus. Foto: Francois Williams

Die staatsbeheerde brandstofmaatskappy se eie gasbronne aan die Suid-Kaapse kus is bykans uitgeput en lewer nie meer genoeg gas om die aanleg aan die gang te hou nie. Die aanleg sal van Desember in instandhoudingsmodus geplaas moet word as daar nie voor dan nuwe gasbronne gevind word nie, blyk uit die dokument.

PetroSA soek ’n verskaffer wat die gas tot by die aanleg kan bring, dus iemand wat die gas kan verskaf, opberg, en aflewer, en verantwoordelik moet wees vir die projekbestuur om ’n LNG-aanleg te ontwerp, bou en bedryf. Voorkeur sal gegee word aan oplossings wat nie in stryd is met die regering se ander LNG-projek wat vir die Ngqura-hawe by Port Elizabeth beoog word nie.

Dit blyk PetroSA wil ’n kontrak van minstens agt jaar sluit met ’n verskaffer – van 2021 tot 2029, met ’n sluiting vir instandhouding in 2025.

PetroSA bedryf sy gas-tot-brandstofaanleg teen net minder as ’n derde van sy ontwerpvermoë weens die kwynende gasverskaffing van sy diepsee-gasboorgate.

PetroSA voer wel gaskondensaat in via sy Voorbaai-tenkplaas by Mosselbaai om die inheemse gasvoorraad aan te vul.

Hoewel die Franse oliereus Total in 2019 nuwe aardgasbronne aan die Suid-Kaapse kus ontdek het, kan dit nog ’n paar jaar duur voordat dié gas ontgin word. PetroSA het in 2008 al begin kyk na die bou van ’n drywende gasaflaaipunt by Vleesbaai sodat hy LNG kan invoer om sy aanleg te voer. Omgewings- en toerismegroepe het skerp daarteen geveg.

PetroSA se eie studies het teen 2014 gewys ’n drywende gasaflaaipunt in die omgewing van Vleesbaai net suid van die brandstofaanleg sal nie prakties wees nie. Navorsing het bevind die weers- en seetoestande in die baai is nie gunstig vir die bou van so ’n aflaaipunt nie.

Destyds is al voorgestel dat Ngqura ’n meer praktiese bestemming vir so ’n aanleg sal wees, want nywerheidskliënte in Port Elizabeth kan ook van die gas gebruik.

Meer oor:  Petrosa  |  Aardgas  |  Brandstof  |  Gas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.