Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Plan met Eskom-skuld kom voor jaareinde
Eskom se skuld beloop meer as R450 miljard. Foto: Unsplash

’n Verslag oor hoe om Eskom se sowat R450 miljard skuld te herstruktureer, sal voor die einde van die jaar gereed wees, het die parlement Woensdag gehoor.

Makgola Makololo, adjunkdirekteur-generaal van die departement van openbare ondernemings, het Woensdag die oorsigkomitee oor openbare ondernemings toegespreek oor Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se spesiale besprekingsdokument oor Eskom.

Dié dokument is aan die einde van Oktober bekend gestel en het onder meer die ontknoping in drie dele van Eskom bevestig en ’n nuwe manier aangekondig om Eskom se monopolie te knak.

Met dié bekendstelling het Gordhan gesê Tito Mboweni, minister van finansies, sou binnekort sê hoe die regering Eskom se skuld sou behartig. Dit beloop nou al nagenoeg 10% van Suid-Afrika se nominale bruto binnelandse produk.

Mboweni het toe in sy daaropvolgende mediumtermynbegrotingsraamwerkrede (MTBR) gesê dat geen bykomende skuldverligting aan Eskom gebied sou word totdat die nasionale tesourie vordering in die omkeer van die nutsmaatskappy begin sien nie.

“Sodra ek oortuig is dat die Eskom-direksie en -bestuur ’n onherroeplike verbintenis gemaak het daartoe om die regering se besluite in werking te stel en daar genoeg vordering is, sal ons oor die toepaslike grootte van skuldverligting onderhandel.

“Eskom is ’n onderneming en moet so bestuur word,” het Mboweni met die MTBR gesê.

Eskom se betreklik nuwe herstruktureringshoof, Freeman Nomvalo, is destyds geoormerk as die persoon wat veral sou fokus op die herstrukturering van Eskom se kolossale skuldlas.

Makololo het Woensdag gesê Nomvalo is tans besig om die verskillende opsies te oorweeg oor hoe om “fundamenteel” met die skuld te werk te gaan. Dit is veral belangrik met die oog daarop om die nutsmaatskappy suksesvol te verdeel.

“Ons verwag dat die finale verslag deur die herstruktureringshoof teen die einde van die jaar gereed sal wees,” het sy gesê.

Sy sê Mboweni behoort dan tevrede te wees met die vordering wat op fundamentele bedryfs- en strukturele vlak gemaak is.

Makololo sê hoewel die mark antwoorde soek oor die hantering van Eskom se skuld, het dit uit die oogpunt van die regering ook baie te make met die herstrukturering van die energiesektor self sodat dit “herposisioneer word vir groei en uitbreiding”.

Die nuut aangestelde uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, sal ’n belangrike dryfveer vir die herstruktureringsproses wees, het sy gesê.

Die parlement het onlangs ’n spesiale bewilligingswetsontwerp vir Eskom goedgekeur om binne die volgende twee jaar ’n ekstra R59 miljard te ontvang. Pres. Cyril Ramaphosa moet die wetsontwerp nog onderteken. Dié geld is deel van die R230 miljard se ondersteuning wat die tesourie oor die volgende tien jaar aan Eskom toegewys het.

Fin24, verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.