Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Plan vir Medupi gou bekend
Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof.

’n Plan oor hoe om ontwerpfoute by Eskom se Medupi-kragstasie reg te maak, sal voor die einde van Maart bekend gemaak word.

Dit is luidens ’n interne memo wat aan werknemers gestuur is.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, gee in die memo besonderhede oor wat die kragreus se planne is aangesien beurtkrag weer dié week ingestel moes word.

Fase 4-beurtkrag is sedert Saterdag elke dag aan die orde van die dag.

“Dit is jammer dat ons verlede week en gedurende die naweek weer beurtkrag moes instel,” sê Oberholzer.

Hy het vorige verklarings deur Eskom herhaal wat probleme by kragstasies asook ’n voorsieningstekort van Cahora Bassa in Mosambiek as redes vir beurtkrag gee.

“Herstel is in ons hande. Ons het as senior leierskap die afgelope twee weke goeie vordering gemaak,” sê Oberholzer.

Hy het werknemers ingelig dat daar met die leierskorps van die opwekkingsafdeling by Eskom vergader is. Nóg vergaderings sal in die komende weke gehou word.

Oor Medupi sê Oberholzer daar is reeds goeie gesprekke met kontrakteurs oor die vyf groot ontwerpsfoute by dié kragstasie gevoer.

“Voorstelle moet egter gefinaliseer word gegee die kontraktuele-, regs- en kosteimplikasies van dié plan,” sê hy.

’n Span is by Medupi gestasioneer om met bedryfsuitdagings te help.

“Die onmiddellike fokus is om die bedryfs- en instandhoudingsregimes te verander en gapings wat betref hulpbronne te sluit,” lui die memo.

Die Medupi-faktor

Oberholzer sê in die memo Medupi is die grootste rede vir kragonderbrekings.

Die ander vier wat tot die probleem bydra is Tutuka, Kriel, Majuba en Duvha.

“Ons sal intensiewe interaksies en werkswinkels met hierdie kragstasies hê om dadelik die probleme onder beheer te bring,” sê hy.

Hy sê lekkasies op ketels is veral die rede hoekom kragstasies van lyn af gaan.

Ingula is die ander nuwe kragstasie wat probleme gee.

’n Derdeparty-kenner is aangestel om te kyk wat by Ingula aangaan.

“Ons het met die kontrakteur bespreek waaroor ons bekommerd is, en ons sal teen einde van die maand ’n plan vir die pad vorentoe hê,” sê Oberholzer.

9-punt-plan

Eskom se direksie het ook besluite geneem wat sy negepuntplan sal beïnvloed.

Een hiervan is dat kapitaal vir onderbrekings gedurende die 2019/‘20 boekjaar goedgekeur is.

Die direksie het ook die plan goedgekeur om mense wat oor kritieke vaardighede beskik by kragstasies aan te stel.

“Dit sluit die kragstasiebestuurstrukture en die aanlegoperateurs in,” sê Oberholzer.

Hy sê verder steenkoolvoorraadvlakke het herstel, en die proses is op dreef om teikens teen die einde van die maand te bereik.

“Net drie van die 15 kragstasies se steenkoolvoorraad is tans minder as die teiken van 15 dae. Teen 31 Maart behoort daar 33 dae se steenkoolvoorraad (uitgesluit by Medupi en Kusile) beskikbaar te wees.

“Hoewel ons dringend beheer oor die situasie moet kry, moet ons onthou dat die omskakeling van ons prestasie nie oornag sal gebeur nie – dit is ’n reis.

“Dit mag soms lyk asof dit onmoontlik gaan wees om dit te doen. Ek glo egter ons sal die nodige vordering maak as ons altyd veilig werk, en op ons daaglikse take fokus,” sluit Oberholzer die memo af.

– Fin24

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Beurtkrag  |  Medupi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.