Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Plastiek word krag in Centurion

Kibo Energy, ’n Ierse maatskappy wat ook op die JSE genoteer is, gaan R11 miljoen leen aan ’n plaaslike onderneming om afvalplastiek vir kragopwekking te benut.

Die embleem van Kibo Energy. Die maatskappy is op die AIM-beurs in Londen genoteer, asook op die JSE in Johannesburg. Kibo Energy se geregistreerde hoofkantoor is in Dublin, Ierland.

Kibo het ’n ooreenkoms met Industrial Green Solutions (IGES), ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, gesluit om hom te help om afval-tot-energieprojekte van meer as 50 MW te ontwikkel.

IGES en Kibo wil saam ’n nuwe maatskappy, met die voorlopige naam Newco Energy, stig waarin Kibo ’n belang van 65% het en IGES die ander 35%.

Newco is al ver gevorder met ’n eerste projek van 8 MW in Centurion waar afvalplastiek, wat nie herwin kan word nie, omskep gaan word tot sintetiese gas wat dan as energiebron in kragopwekkers verbrand word. Die elektrisiteit sal aan ’n nywerheidskliënt verkoop word.

Die aanvanklike plan is om sewe sulke projekte oor Suid-Afrika heen te begin waar die proses van pirolise gebruik gaan word om plastiek tot benutbare gas te omskep. Met pirolise word die afvalplastiek teen hoë temperature chemies afgebreek. Die koolwaterstofgasse wat uit die proses kom, word dan opgevang om vir kragopwekking te gebruik.

Volgens Kibo is kragkopers vir al sewe projekte reeds geïdentifiseer, en word daar tans oor die kragkoopkontrakte onderhandel.

Vir die eerste projek is reeds ’n memorandum van verstandhouding met ’n nywerheidskliënt in Centurion gesluit vir ’n tienjaarkontrak op die beginsel van “vat of betaal” – bedoelende die kliënt moet betaal vir die krag al gebruik hy dit nie.

’n Ooreenkoms is gesluit met ’n afvalbestuuroperateur wat beloof om genoeg afvalplastiek te verskaf en nege tot 12 maande se voorraad op te bou.

Grond vir die projek is reeds bekom, ’n afvallisensie is afgehandel, lisensies vir atmosferiese vrystellings is ingedien by die betrokke owerhede en die goedkeuringsproses om aan die kragnetwerk gekoppel te word, is aan die gang.

Dié projek sal met 2 MW begin, wat oor drie jaar tot 8 MW uitgebrei kan word. Die eerste fase van 2 MW kan binne 16 maande gebou word.

Kibo se ander energieprojekte is steenkoolkragstasies in Botswana, Mosambiek en Tanzanië. Hy is ook deel van ’n vennootskap om buigsame kragoplossings in Brittanje te bied.

Kibo se aandeelprys op die JSE het Dinsdagoggend met 7% tot 15c opgeskiet.

Meer oor:  Centurion  |  Kragopwekking  |  Herwinning  |  Selfopwekking  |  Plastiek  |  Energie  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.