Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Polisie kyk na ‘sabotasie’ by Eskom

’n Polisie-ondersoek is aan die gang na die beweerde sabotasie by Eskom wat bygedra het tot die jongste vlaag kragonderbrekings.

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die ondersoek is aan die gang, “maar ons kan nie besonderhede oor ons ondersoek verskaf nie gegewe die sensitiewe aard daarvan”.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa Woensdag ná ’n vergadering met die Eskom-direksie en -topbestuur by Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Johannesburg, sabotasie as ’n bydraende faktor geïdentifiseer het vir die huidige kragkrisis.

Hy het gesê die sabotasie het dalk nie so ’n groot invloed gehad nie, maar dit het wel bygedra tot ander probleme.

Iemand het volgens die president ’n instrument by een van die land se kragstasies ontkoppel en dit het tot die verlies van 2 000 MW krag gelei.

Vrae oor die ondersoek na die voorval wat glo verlede week by die Thuthuka-kragstasie in Mpumalanga plaasgevind het, is Donderdag aan Eskom gestel.

Van die vrae was of Eskom reeds ’n klag by die polisie ingedien het; of ’n interne ondersoek al begin het; of daar enige voorlopige bevindinge gemaak is; wat die motief vir dié optrede kon gewees het en wanneer die ondersoek na verwagting afgehandel sal wees.

 Eskom logo
André de Ruyter is die nuwe hoof van Eskom.

Dikatso Mothae, Eskom-woordvoerder, het in reaksie op die vrae gesê “daar is niks verder wat ons in dié stadium kan byvoeg nie”.

Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, het by navraag gesê: “Die president het die polisie en die Staatsveiligheidsagentskap opdrag gegee om die kwessie te hanteer. Hulle het die president verseker dat hulle besig is daarmee en ons vertrou dat hulle verwikkelinge sal aankondig as daar is.”

Alec Erwin, oudminister van openbare ondernemings, het in 2005 te midde van kragonderbrekings in die Wes-Kaap ’n opskudding veroorsaak toe hy gesê het ’n los bout in een van die Koeberg-kernkragaanleg se turbines het skade veroorsaak en dat dit na sabotasie lyk. Dit het later aan die lig gekom dat die probleme te wyte was aan ander oorsake.

Intussen het verskeie politici gereageer op Ramaphosa se beweringe van sabotasie.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het Donderdag sy skeptisisme oor die beweringe uitgespreek.

“Totdat ek ’n inhegtenisneming sien, bly ek baie skepties. Dit is dieselfde verskoning wat Alec Erwin ’n paar jaar gelede oor die Koeberg-kernkragaanleg gebruik het. Wat my verstom, is dat ons in die bestek van 72 uur gegaan het van nat steenkool, na reën, ’n toevoerband wat gebreek het, panele wat ontkoppel is, en nou sabotasie. Dit is baie duidelik dat mense nie ingelig word oor wat die ware probleem is nie. Totdat iemand in hegtenis geneem word, bly dit ’n baie gerieflike verskoning,” het hy gesê.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, het Donderdag getwiet: “Daar is beslis sabotasie by Eskom en dit word veroorsaak deur dié drie mense: (Pravin) Jamnadas (Gordhan, minister van openbare ondernemings), (Jabu) Mabuza, (Eskom-voorsitter) en Ramaphosa. Die kapitalistiese voorneme is om die opwekkingsvermoë van Eskom te saboteer sodat IPP’s (onafhanklike kragprodusente) ’n sentrale rol kan speel. Dit is sabotasie gemotiveer deur kapitalistiese gulsigheid. Ons sal hulle keer.”

Die metaalwerkersvakbond Numsa het nie doekies omgedraai nie. Phakamile Hlubi-Majola, Numsa-woordvoerder, het Donderdag by navraag gesê die vakbond dink “die president het gelieg” oor die sabotasie.

“Ons meen die president het gelieg toe hy die bewering gemaak het. Ons weet die probleme by Eskom het nie verlede week of verlede maand ontstaan nie – daar is voortdurende probleme by die kragverskaffer.

“Dieselfde verskonings, soos nat steenkool, word elke keer aangebied. Ons glo daar is verskeie redes vir die probleme. Ons weet dat Eskom sedert minstens 2012 nie instandhoudingswerk aan die kragstasies gedoen het nie.

“By Medupi is die probleme te wyte aan swak vakmanskap, maar geen geld is verhaal van die skuldiges nie. Erger nog, die direksievoorsitter het bevestig dat Eskom volgende jaar nog verliese van miljarde rande sal ly, hoofsaaklik weens die massiewe oorskryding van die bouprojek.”

Meer oor:  Sabotasie  |  Beurtkrag  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.