
Pravin Gordhan (ANC) en Natasha Mazzone (DA), lede van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, gesels tydens ’n onderbreking in die ondersoek na staatskaping by Eskom, wat Dinsdag in die parlement voortgeduur het. Foto: Francois Williams
Venete Klein, ’n vorige nie-uitvoerende direkteur van Eskom, het erken die direksie het toegelaat dat mense soos Tshediso Matona en Tsholofelo Molefe onskuldig geskors is en hul loopbane is sodoende geskaad.
Klein, ’n vooraanstaande bankier, direkteur van die Reserwebank en lid van die Instituut van Direkteure, is Dinsdagmiddag deeglik ondervra deur Pravin Gordhan, ANC-lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, as deel van die komitee se ondersoek na bewerings van staatskaping by Eskom.
Gordhan, voormalige minister van finansies, het Klein ondervra oor die direksie se goedkeuring van ’n betaling aan die Gupta-beheerde maatskappy Tegeta.
Die Eskom-direksie moes op 8 Desember 2015 ’n betaling van R1,6 miljard aan Tegeta goedkeur vir die aankoop van steenkool.
Klein het eers later uitgevind die bedrag was nie vir die koop van steenkool nie, maar as waarborg aan Tegeta sodat hy die Optimum-steenkoolmyn kan koop.
Skorsings bevraagteken
Viroshini Naidoo, ’n ander voormalige Eskom-direkteur, het ook Dinsdagmiddag getuig voor die ondersoek.
Adv. Ntuthuzelo Varana, getuienisleier in die ondersoek, het haar ondervra oor die direksie se besluit in Maart 2015 om vier topbestuurslui (benewens Matona en Tsholofele Molefe) vir Dan Marokane en Matshela Koko te skors hangende die Denton-ondersoek. Koko is later heraangestel.
Volgens Naidoo wou die ander drie Eskom verlaat, maar Koko wou graag terugkeer na Eskom.
Varana het egter dit aan haar gestel dat Matona sy skorsing in die Arbeidshof en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie beveg het en dat hy graag sy werk by Eskom wou terughê.
Vuil wasgoed
Naidoo sê die ondersoek was nie daarop gemik om vuil wasgoed in Eskom op te diep en kwaadwillig teen spesifieke mense gemik was nie, maar om te probeer vasstel wat die dieperliggende oorsake van die probleme by Eskom was. Die direksie was oortuig dat dit beter sou wees om die ondersoek doeltreffend uit te voer as die vier bestuurslui verwyder is.
Varana het dit aan haar gestel dat die vier verwyder is omdat daar vermoed is hulle sou inmeng by die Denton-ondersoek. Varana het gesê in nóg die Denton-verslag, nóg die openbare beskermer se staatskapingsverslag is enige vingers na Matona gewys.
Varana het Naidoo uitgevra oor die Eskom-tenderkomitee se dringende vergadering in 2016 om 20:00 om R600 miljoen vooruit aan Tegeta te betaal.
Naidoo sê die direksie moes besluit oor die verlenging van ’n kontrak met Tegeta wat ’n voorafbetaling vereis het. Die kontrak sou oor vyf maande verstryk, maar daar moes dringend oor die voorafbetaling besluit word. Dit was om dringend steenkool te koop, anders sou Eskom ’n kragtekort van 600 MW gehad het en kon beurtkrag inskop.
Maar dit het later geblyk die betaling was eintlik om die Optimum-steenkoolmyn te koop.
Naidoo het gesê daar is aan haar gesê die geld sou nie na die sakereddingspraktisyns van die Optimum-myn gaan nie, maar aan Tegeta omdat die koop van die myn reeds afgehandel was. Sy het hewig ontken dat sy die oordrag van geld aan Tegeta vir ander redes as vir die koop van steenkool goedgekeur het.
Laataand-vergadering
Varana het gesê die geld moes in daardie stadium na die sakereddingspraktisyns gegaan het en nie na Tegeta nie, want hulle het in werklikheid toe nog nie die myn besit nie.
Oor die waarborg van R1,6 miljard wat in Desember 2015 ook in ’n laataand-vergadering goedgekeur is, het Naidoo gesê sy het eers in die media uitgevind dat die geld vir ’n waarborg gebruik is. Volgens haar was dié geld bedoel vir die koop van steenkool.
Varana het gesê ’n Absa-amptenaar het in Desember 2015 ’n oproep van Anoj Singh, finansiële hoof van Eskom, asook Eric Wood, van Regiments Capital, ontvang waarin hulle gesê het die Eskom-direksie het ’n waarborg vir Tegeta goedgekeur.
Varana sê Wood was nie ’n werknemer van Eskom nie.