Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Produsente vergader dié week om olieprys te probeer red

Saoedi-Arabië, Rusland en ander groot olieprodusente onderhandel oor ’n ooreenkoms om die historiese daling in die olieprys te stuit.

Maar ernstige hindernisse belemmer nog die onderhandelinge. ’n Vergadering van lede van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en ander, wat sedert verlede Maandag vertraag word, is nou tentatief vir Donderdag geskeduleer.

Die doelwit, wat eerste deur pres. Donald Trump van die VSA onthul is, is om olieproduksie met sowat 10% te verlaag – die grootste gekoördineerde produksieverlaging tot nog toe.

Saoedi-Arabië en Rusland wil albei hê die VSA, wat danksy die skalierevolusie die wêreld se grootste petroleumprodusent geword het, moet ook sy produksie verminder.

Maar Trump het die naweek net vyandige woorde vir Opul gehad en dreig met tariewe op buitelandse olie.

Rusland en Saoedi-Arabië was ook die naweek in mekaar se hare oor hoe om die produksieverlaging te bereken.

Die olieprys het vanjaar al met 50% geval nadat die ekonomiese uitwerking van die Covid-19-pandemie sowat ’n derde van die wêreldvraag uitgewis het. Die prysdaling is so dramaties dat dit die begrotings en politieke stabiliteit van olie-afhanklike lande, die voortbestaan van Amerikaanse skalie-produsente en werkgeleenthede in die bedryf bedreig.

Selfs die Internasionale Energie-agentskap, wat lande verteenwoordig wat olie verbruik, het vir optrede gevra.

Olie-produserende lande weet dat hulle óf ’n diplomatieke ooreenkoms vir die vermindering van produksie moet bereik óf markkragte sal hulle dwing om produksie te staak soos wat bergplekke op land en see opvul.

Maar daar is ook tekens van vordering. Noorweë, wat sedert 2002 nie sy produksie wou verlaag nie, het die naweek gesê hy sal sy produksie eensydig verlaag as ander lande dit ook doen.

’n Ooreenkoms sal diplomatieke vlugvoetigheid verg terwyl lande reuse-hoeveelhede hulpbronne aan die stryd teen die pandemie toewys.

Dit gaan ook oor ’n wilstryd tussen pres. Wladimir Poetin van Rusland, die Saoediese kroonprins, Mohammad bin Salman, en Trump.

Trump het die naweek by die Withuis gesê hy sal tariewe gebruik om die plaaslike oliebedryf te beskerm as hy moet, maar bygevoeg hy dink Saoedi-Arabië en Rusland sal ’n ooreenkoms bereik.

Saoedi-Arabië, wat verlede maand ’n prysoorlog met Rusland begin het nadat Opul-onderhandelinge in ’n breekspul geëindig het, het dit duidelik gestel hy gaan nie produksie sny tensy ander produsente, wat die VSA insluit, dit ook doen nie.

In sy jongste maneuver in die prysoorlog het Saoedi-Arabië gister sy maandelikse prysvasstelling vir uitgevoerde olie vir Mei na Donderdag uitgestel. Die Opul-vergadering is ook tentatief tot Donderdag uitgestel.

Dit stel Saoedi-Arabië in staat om ’n beter idee te kry van hoe die onderhandelinge vorder voordat hy sy prys vasstel – die sleutelwapen in sy stryd met Rusland vir markaandeel. – Bloomberg

Meer oor:  Opul  |  Olieprys  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.