Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Prys van Brent-ruolie laagste in 21 jaar

Die prys van Brent-ruolie het Woensdag in Londen tot sy laagste vlak in amper 21 jaar geval omdat die opgaarplek vir olie internasionaal te min is nadat die vraag na olie opgedroog het weens die Covid-19-pandemie.

Suid-Afrika voer Brent-ruolie in wat by die raffinaderye in die land in brandstof omskep word.

’n Gasvlam by ’n olieraffinadery van Shell in Deer Park, Texas. Foto: AP

Die prys van die West Texas Intermediate (WTI)-ruolie wat in Mei gelewer moet word, het Maandag verby nul geval op die termynmarkte waar die kontrakte verhandel.

WTI is ’n ruolie wat in Amerika in brandstof omskep word.

Die prys van die Brent-ruolie wat in Junie gelewer moet word, het Woensdagoggend in Londen op die termynmark met 15% tot $16 per vat gedaal.

In New York het die prys van WTI met nóg 5% geval.

Die ineenstorting van die pryse van ruolie duur voort weens die vrese oor ’n oorvloed olie wat nie verkoop kan word nie omdat die vraag daarna in duie gestort het.

Die kontrak vir die lewering van WTI in Mei het Maandag verby nul tot -$40,32 per vat geval.

Die internasionale vraag na olie het in duie gestort weens die staat van inperkings wat wêreldwyd heers in ’n poging om die verspreiding van die koronavirus te keer.

Kommer bestaan dat daar te min stoorplek gaan wees en dit het tot ’n grootskaalse verkoop van olie gelei.

Die olieministers van die lidlande van die internasionale Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en tien ander (insluitende Rusland) het Dinsdag ’n onbeplande vergadering gehou om die ineenstorting van die olieprys te bespreek.

Hulle kon egter nie op ’n beleid ooreenkom nie.

Die alliansie van olieproduserende lande het vroeër die maand ooreengekom dat produksie tot 10 miljoen vate per dag beperk word, maar dit kom eers in Mei.

Selfs dan sal dit nie die vraag en aanbod kan uitbalanseer wat die virus geskep het nie.

Tekens dui daarop dat die ongekende lae pryse hier is om te bly.

Royal Vopak, die wêreld se grootste onafhanklike maatskappy van opgaartenks vir olie, het sê omtrent die helfte van sy opgaarplek is verkoop.

Clarksons Platou sê die stoorplek op skepe wat hy het, word teen ’n ongekende pas uitgebrei.

Pierre Andurand, ’n bekende internasionale oliehandelaar, glo ruoliepryse gaan weer tot onder nul val.

Die ineenstorting van die mark laat vrae ontstaan daaroor of die United States Oil Fund – die grootste fonds in die wêreld wat op die olieprys gegrond is – nog ’n slagoffer van die krisis gaan word.

Die oliepryskrisis het reeds ander slagoffers – soos handelaars wat van die kontrakte gekoop het omdat dit vir hulle tot verlies gely het.

In Suid-Korea het die ineenstorting van die olieprys die handelstelsel van die makelaarsfirma Kiwoom Securities laat vries omdat dit nie ’n prys van onder nul erken nie.

“Die hele energiemark is op ’n naaldpunt omdat aanvanklik gedink het die situasie gaan tot die WTI-kontrak vir Mei beperk word, maar dit het nou uitgekring na ander kontrakte,” het Howie Lee, ’n ekonoom van die Oversea-Chinese Banking Corporation in Singapoer, gesê.

’n Groot maatstaf vir Brent-olie genaamd Dated Brent, wat gegrond is op die pryse van omtrent twee-derdes van die wêreld se olie, het ook tot $13,24 per vat geval Dinsdag. Dit is die laagste vlak sedert 1999, volgens S&P Global Platts, wat dié indeks opstel.

Dit beteken olie van Europa en Afrika soos Bonny Light (van Nigerië) en Urals (van Rusland) gaan teen minder as $10 per vat verkoop word, omdat dit teen ’n diskonto tot die Dated Brent-maatstaf verhandel.

Die voorraad by die grootste Amerikaanse opgaarplek in Cushing, Oklahoma, is nou die meeste sedert 2017.

Die bedryfsliggaam American Petroleum Institute het berig dat die opgegaarde voorraad ruolie met 13,2 miljoen vate verlede week gestyg het. Die voorraad by Cushing het met vyf miljoen vate gestyg.

“Niemand weet waar die onderpunt is nie,” het Vandana Hari, stigter van Vanda Insights in Singapoer, gesê.

Later Woensdag word amptelike syfers van die Energy Information Administration uitgereik oor opgegaarde olie.

Sy glo daar gaan nog ’n rondte bloedverlies wees as dié inligting van die organisasie ’n soortgelyke verhoging in opgegaarde voorraad toon. – Bloomberg

Meer oor:  Olieprys  |  Koronavirus  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie  |  Diesel  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.