Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Prysskok vir krag wag as Eskom se aansoek slaag
coal power station,eskom,electricity
Eskom se steenkoolkragstasies is ’n groot bron van besoedeling.

Suid-Afrikaanse kragverbruikers sal weer meer vir hul elektrisiteit moet betaal as Eskom slaag met sy jongste hofgeding.

Eskom het ’n dringende hofaansoek gebring teen die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se tariefbesluit vir die volgende drie jaar tot 2022. Daarvolgens moet Eskom kragtariewe oor die volgende drie jaar met onderskeidelik 9,41%, 8,1% en 5,22% verhoog.

Die energiekommentator Chris Yelland het op Twitter gewaarsku kragpryse kan skerp met sowat 25% styg (hoewel dit oor ’n paar jaar ingefaseer kan word) as Eskom met sy hofaansoek slaag.

Nersa het die redes vir sy tariefbesluit van Maart vanjaar bekend gemaak, maar Eskom stem nie saam nie en sê dit skep meer vrae as antwoorde. Nersa het die reddingsboei van R23 miljard per jaar, wat in Februarie se begroting vir Eskom beloof is, afgetrek van die toegelate opbrengs wat Eskom kan verdien op sy bates.

Dit het daartoe gelei dat die toegelate opbrengs vir elkeen van die volgende boekjare met een persentasiepunt verlaag is. Volgens Eskom kom dit neer op baie minder as ’n redelike opbrengs en vererger dit Eskom se finansiële volhoubaarheid.

Calib Cassiem, finansiële hoof van Eskom, het in ’n verklaring laat weet die Eskom-direksie het besluit hy gaan hof toe om ’n finansiële ramp vir Eskom te vermy. “Ons vra ’n bevel om die tekort op ’n ingefaseerde manier aan te vul. Verder wil ons hê die hof moet Nersa se besluit oor tariewe oor die volgende drie jaar tersyde stel en dat Nersa dit moet heroorweeg in die lig van die hof se beslissing.”

Ons wil hê die hof moet Nersa se besluit oor tariewe oor die volgende drie jaar tersyde stel en dat Nersa dit moet heroorweeg in die lig van die hof se beslissing.
Calib Cassiem

Volgens Cassiem glo Eskom Nersa het nie die reëls en beginsels van die Wet oor Elektrisiteitsregulering en die metodologie vir meerjarige tariefvasstellings behoorlik in ag geneem in sy besluit nie. “Die metodologie laat nie toe dat hulp van die regering ingesluit word in die opbrengs op bates nie. Nersa se aftrekking van die regering se reddingsboei ondermyn dus die hele doel van staatsteun.”

Maar volgens Yelland het Nersa aangedui die reddingsboei van R23 miljard per jaar oor die volgende drie jaar sal Eskom se netto koste verlaag, want die betrokke ministers en Eskom-topbestuur het gesê die reddingsboei sal vir bedryfsuitgawes soos instandhouding gebruik word en nie vir skuldterugbetaling nie.

As die netto bedryfskoste van Eskom laer is, behoort Eskom se gemiddelde verkooppryse ook laer te wees om die laer netto bedryfskoste te verhaal, sê Nersa.

Die parlement bespreek juis nou ’n spesiale toedelingswetsontwerp wat nog ’n ekstra R59 miljard vir vanjaar en volgende jaar aan Eskom gee. Die tesourie het die afgelope week ’n lys voorwaardes vir dié hulp bekend gemaak. Dit sluit in dat Eskom daagliks verslag doen oor sy kontantvloei, maandelikse bestuursverslae stuur, maandeliks moet sê hoe hy koste sny en skuld invorder.

Die geld van die laasgenoemde reddingsboei mag net gebruik word om skuld af te betaal en rente op skuld te betaal, volgens die lys voorwaardes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.