Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
R17 mjd. in noodgeld reeds aan Eskom betaal
Melkbosstrand North of Cape Town South Africa Powe
Eskom het vroeg in April noodgeld van die regering ontvang. Foto: Getty Images

Eskom het reeds vroeg in April ’n reddingsboei van R17,6 miljard gekry om dringende uitgawes te dek, blyk uit ’n verslag van Tito Mboweni, minister van finansies, wat Donderdag in die parlement ter tafel gelê is.

Die eerste R5 miljard van dié bedrag is al op 2 April aan Eskom betaal.

Alf Lees, DA-parlementslid en DA-woordvoerder oor finansies, het ’n dringende vergadering van die parlement se staande komitee oor finansies tesame met die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings en die staande komitee oor toedelings aangevra om die geldkrisis by Eskom te bespreek.

Dit blyk Mboweni het soos Malusi Gigaba, een van sy voorgangers as finansminister, weer ’n klousule in die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies gebruik om die noodfondse regstreeks uit die staatskas na Eskom te kanaliseer. Gigaba het einde 2017 ook dié klousule benut om noodfondse vir die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens te bekom sodat die lugdiens banklenings kan terugbetaal.

Dit is nie bekend of die R17,6 miljard enigsins deel vorm van die R23 miljard per jaar wat in die begroting van Februarie oor die volgende drie jaar aan Eskom toegedeel is nie.

Eskom het skuld van meer as R420 miljard. Die departement van openbare ondernemings het al in Februarie in die parlement gewaarsku Eskom is tegnies bankrot en sal teen die huidige tempo teen April ineenstort as dit nie ’n reddingsboei kry nie.

Mboweni het dus die klousule in die wet gebruik om noodfondse oor te dra sonder die normale uitgerekte goedkeuringsproses wat andersins nodig sou wees vir sulke toedelings.

Volgens Mboweni se verslag word noodfinansiering deur die wet beperk tot ’n maksimum van 2% van die “toegewysde nasionale begroting”. Lees meen dit dui aan hoe groot die kontantkrisis by Eskom is, want sonder die 2%-beperking sou die bedrag wat uit die staatskas geneem is veel groter gewees het.

Mboweni sê in sy verslag dat Eskom in sy huidige vorm nie finansieel volhoubaar is nie.

Die nasionale energiereguleerder het in Maart ’n tariefverhoging van byna 14% aan Eskom toegestaan, terwyl Eskom vir bykans 20% gevra het.

Die geldkrisis kom te midde van bedryfsprobleme by Eskom weens onder meer agterstallige instandhouding wat vanjaar tot hernieude beurtkrag gelei het.

In ’n sameloop van omstandighede moes Eskom in Maart in ’n stadium selfs fase 4-beurtkrag instel toe die sikloon Idai Mosambiek getref en kragvoorsiening van die Cahora Bassa-hidrokragsentrale onderbreek het.

Eskom is intussen boonop gewikkel in ’n omvattende herstrukturering nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het Eskom moet verdeel word in drie afsonderlike staatsentiteite, naamlik ’n kragopwekkingsmaatskappy, ’n onafhanklike transmissienetwerk en ’n verspreidingsmaatskappy.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het ook vandeesweek aan personeellede gesê Eskom sal sy arbeidsmag moet verklein, maar sal probeer om dit deur natuurlike vermindering en moontlik vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftredepakkette te doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.