Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
R17 vir ’n liter petrol wink!

Motoriste kan in Oktober getref word deur ’n verhoging van soveel soos R1,14 per liter in die brandstofprys, wat die binnelandse prys van 95-oktaan tot bo R17 per liter kan stoot, het vroeë berekeninge deur die Sentrale Energiefonds die afgelope week gewys.

September se verligting kan Oktober se dubbele pyn by die petrolpomp beteken.

Só ’n prysstyging sal die regering se brandstofpryssubsidie van 20c per liter vir September – teen ’n koste van R400 miljoen – uitwis.

Jeff Radebe, minister van energie, het Maandag aangekondig dat brandstofpryse nie in September sal styg nie, behalwe petrol, wat met 5c per liter klim as gevolg van loonverhogings vir petroljoggies. Die subsidie was “eenmalig”.

Die prys van Brent-ruolie het die afgelope 12 maande met 36% in dollarsyfers gestyg van net meer as $56 per vat in September 2017 tot Vrydag se prys van $76,50. Weens ’n verswakking in die rand van sowat 20% die afgelope jaar, is olie in rand egter 62% duurder.

Dieselfde verbruikers wat vandeesmaand halleluja sing, gaan volgende maand vir die gelag betaal.

Die staat se uiters ongewone subsidie het gekeer dat die prys van petrol vandeesmaand met soveel soos 28c per liter styg. Dit is die eerste keer sedert 1990 dat die regering ingryp in die brandstofprys, weens kwaai druk van vakbonde en opposisiepartye.

Radebe sê die subsidie sal “geen impak” op die fiskus hê nie. “Dit sal gefinansier word deur die Sentrale Energiefonds, wat 100% in staatsbesit is.”

Hy sê Suid-Afrika as olie-invoerder is uitgelewer aan die olieprys se dollarwaarde, en brandstofpryse het in net vyf maande met sowat R1,50 per liter gestyg. “Dit is ’n eenmalige maatreël in reaksie op die baie negatiewe ekonomiese klimaat waarvan almal van ons bewus is,” het hy in Kaapstad gesê.

Jeff Radebe, minister van energie. Hy sê die subsidie sal “geen impak” op die fiskus hê nie.

Volgens Radebe sal ’n geskatte R500 miljoen uit die regering se brandstofvereffeningsfonds, die Slate-heffingsrekening, die subsidie in die brandstofpryse finansier. Die geld sal aan die einde van die maand aan energiemaatskappye betaal word, wat die ingryping tot dan moet absorbeer.

Die Slate-heffingsrekening is geskep om brandstofkleinhandelaars te vergoed as daar ’n onderverhaling is van die brandstofprys, soos in gevalle waar die internasionale olieprys of valuta verstewig nadat die brandstofprys vir die maand vasgestel is.

Dit word geadministreer deur die Sentrale Energiefonds.

Die regering het ’n kans gevat, sê prof. Jannie Rossouw, hoof van ekonomie en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand. “Hulle is soos spartelende laerskoolkinders wat desperaat aan ’n plan probeer dink,” sê hy.

Hulle is soos spartelende laerskoolkinders wat desperaat aan ’n plan probeer dink.

“Hulle het teruggesit en gedink of die wisselkoers gaan verbeter, en of die ruolieprys gaan afkom,” sê hy. “Toe sê hulle, kom ons dra dié risiko tydelik en wanneer daar in die toekoms verligting is met die wisselkoers wat verbeter of die ruolieprys wat afkom, sal ons dan net die petrolprys laat sak.”

Nou het die rand egter erg verswak – en in Oktober sal verbruikers die rekening betaal.

Rossouw sê hoewel die tydelike verligting nou goed is vir die ekonomie omdat dit inflasionêre druk verlig, kan Suid-Afrika nie die volle prys van die ingryping bekostig nie. “Die regering moet nou die tekort van iewers anders verhaal.”

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe.

Christie Viljoen, ’n ekonoom by PwC Strategy, sê dieselfde verbruikers wat vandeesmaand halleluja sing, gaan volgende maand vir die gelag betaal.

“Die ingryping vertraag net die verhogings wat verwag word namate die einde van die jaar nader kom. Dit maak nie die verskriklike verhogings sedert April ongedaan nie.”

Sanisha Packirisamy, ekonoom by Momentum Investments, sê die ingryping verteenwoordig ’n uitgestelde koste wat in die toekoms iewers verhaal sal moet word.

Viljoen sê die rekening word gebou uit heffings op plaaslike brandstofpryse. “Enige surplus in die fonds wat tans gebruik word om brandstofprysstygings te verminder, word opgebou uit hierdie vorige heffings.”

En dit sal weer in ’n ander stadium van verbruikers verhaal moet word.

Radebe sê hy het toestemming gegee dat die surplusfondse in die rekening gebruik word om die tekort te finansier. Ekonome skat daar is ongeveer R1 miljard in die fonds, maar om die rekening aan die gang te hou vir die toekoms, moet daar R500 miljoen oorbly, wat beteken dat die fonds ná hierdie maand uitgeput is.

Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds toon ook ’n gemiddelde onderverhaling op petrolpryse van R1,02 per liter van 31 Augustus tot 3 September, en op diesel was die onderverhaling al by R1,19. Dít sal noodgedwonge ook die prys in Oktober opstoot.

Rossouw sê as die Slate-rekening uitgeput is, is hy uitgeput.

“Dis nie ’n onbeperkte fonds nie. Die regering gebruik nou die Slate-rekening om die risiko te finansier. Die Shells en Engens in die land kan nie bekostig om die risiko te dra nie,” sê Rossouw.

“Hulle sal dan eenvoudig hul ondernemings in Suid-Afrika moet sluit, want hulle sal teen ’n verlies sake doen. Die olieprys is ’n gegewe, dis ’n internasionale prys. Op die ou end sal Suid-Afrikaners maar net meer moet betaal.”

Die Shells en Engens in die land kan nie bekostig om die risiko te dra nie.

Oliemaatskappye in Suid-Afrika wou nie reageer op vrae oor of die regering voor die tyd met hulle gepraat het oor die ingryping nie. Shell, Total en BP het nie geantwoord op navrae nie, terwyl Gavin Smith, Engen se woordvoerder, gesê het Engen is nie in hierdie stadium bereid om kommentaar te lewer op die ingryping nie.

Volgens die departement van energie is die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging wel geraadpleeg.

Viljoen sê dit is onwaarskynlik dat die aanpassing ’n betekenisvolle impak op inflasievlakke en rentekoerse sal hê.

Packirisamy sê hoewel daar nou verligting is, wys statistieke dat Suid-Afrikaanse verbruikers hierdie meevallertjie gaan uitgee, eerder as om te spaar. “Die ingryping plaas ook die regering se finansies in gevaar omdat die tesourie reeds onder druk is om inkomste in te vorder in die trae ekonomie.”

Packirisamy glo verhoogde internasionale oliepryse, wat gedryf word deur ’n vermindering in olieproduksie en moontlike Amerikaanse sanksies teen Iran, asook die skerp verswakking van die rand, gaan Suid-Afrikaanse brandstofpryse in die komende maande opstoot.

Meer oor:  Shell  |  Sasol  |  Engen  |  Christie Viljoen  |  Jeff Radebe  |  Jannie Rossouw  |  Brandstof  |  Diesel  |  Minister Van Energie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Sentrale Energiefonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.