Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
R8,8 mjd. kan teruggevat word weens Eskom-bedrog

Die mikpunt is om meer as R8,8 miljard terug te kry vir Eskom weens die omvattende bedrog en korrupsie daar.

’n Lid van die Rooimiere hou ’n wakende oog oor Eskom se werkers terwyl hulle onwettige kragverbindings vernietig in Diepsloot, Johannesburg.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die staat se Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), het Dinsdag aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê in gevalle waar vals eise betyds gestop is, het die SOE reeds gehelp om Eskom R400 miljoen te bespaar.

Hy het aan Skoor verslag gedoen oor die SOE se ondersoeke na bedrog en korrupsie by Eskom wat onder meer betref steenkool- en dieselkontrakte, belangebotsings, wanbestuur by Medupi, Kusile en Ingula, asook Eskom-personeel wat met Eskom self sake doen.

Dr. Jerome Wells, regsadviseur vir die SOE, sê moontlike eise teen die Gupta-maatskappy Tegeta word tans uitgewerk. Tegeta is egter tans in sakeredding.

Claudia O’Brien, hoofondersoeker in die SOE se Eskom-ondersoeke, sê die steenkoolkontrak met Optimum se Koornfontein-myn word dalk ook ter syde gestel word. Die kontrakwaarde het met byna R7 miljard gestyg sedert dié myn as deel van Optimum Coal gekoop is, maar sedert Junie 2018 het Koornfontein nie die maandelikse tonnemaat steenkool aan Eskom gelewer soos wat die kontrak bepaal nie. Die kontrak verstryk in 2023.

Dit is nadat die hof in Februarie die Brakfontein-steenkoolkontrak van R3,87 miljard ter syde gestel is.

O’Brien sê verdagte betalings van R136 miljoen deur vier boukontrakteurs by Kusile aan twee subkontrakteurs is in die SOE se ondersoek gevind. Die subkontrakteurs het op hul beurt R44,4 miljoen onwettig aan vier Eskom-amptenare betaal.

Die ondersoeke na drie van die vier kontrakteurs is in ’n gevorderde stadium en bewyse van bedrog, korrupsie en geldwassery is gevind. Twee van die Eskom-amptenare het al bedank, een is afgedank en een het bedank voordat die SOE se ondersoek begin het.

Tot 27 verwysings is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur wat betref drie van die vier kontrakteurs.

Siviele stappe is gedoen om R2,78 miljard terug te kry, bestaande uit onder meer R780 miljoen van een kontrakteur, die tersydestelling van ’n kontrak van R1,2 miljard, en om tussen R700 miljoen en R1 miljard se oorbetalings terug te kry.

Van dié kontrakteurs is egter steeds op die bouperseel, en hulle het op hul beurt eise teen Eskom ten bedrae van R1,9 miljard, wat volgens O’Brien meestal spruit uit ooglopende wanbestuur van kontrakte deur Eskom-kontrakbestuurders in samespanning met kontrakteurs. Bedrieglike eise is onder meer deur ’n boukontrakteurs ingedien, vals verklarings is gemaak en ’n Eskom-amptenaar het nie sy belange verklaar nie. Bewyse van geldwassery, rampokkery en bedrieglike eise van R66,9 miljoen is onder meer gevind.

Een internasionale maatskappy het sy eie ondersoek gedoen wat betref topamptenare binne Eskom en twee subkontrakteurs wat kontrakte van soveel as R2 miljard beklink het. In dié saak word 15 individue en 10 entiteite ondersoek, en die Amerikaanse sekuriteitekommissie, departement van justisie en FBI is ook betrokke by die ondersoek, asook vervolgingsowerhede in Duitsland en Switserland.

Belangebotsings

In totaal is 5 523 Eskom-werknemers verwys vir tugstappe weens belangebotsings en waar hulle nie verklarings oor hul belange gedoen het nie. Hiervan is 60 belangebotsings gevind, agt amptenare is verwys weens leefstyloudits en drie is verwys weens hul betrokkenheid by boukontrakte vir Eskom.

Tans is 134 tugprosesse aan die gang, 13 werknemers het al bedank en 1 is afgedank.

As deel van die ondersoeke is daar al 32 beslagleggings gedoen, 39 gevalle is na die NVG verwys en daar is twee siviele regsgedinge teen Brakfontein en Optimum. Nog R3,98 miljard se kontrakte moet ter syde gestel word.

Meer oor:  Eskom  |  Bedrog  |  Kragvoorsiening  |  Skoor  |  Spesiale Ondersoekeenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.