Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Rade kry groen lig om krag te koop
André de Ruyter, bestuurshoof van Eskom. Foto: Deon Raath

Munisipaliteite soos dié in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad wie se Eskom-rekening op datum is, kan nou aansoek doen om hul eie krag op te wek.

Dit volg nadat Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, Vrydag nuwe regulasies oor kragopwekking in die Staatskoerant gepubliseer het.

Dít kan Eskom se kragverkope knou wat volgens die huidige sakemodel tot hoër tariewe sal lei, maar volg juis omdat Eskom nie aan die vraag na elektrisiteit kan voldoen nie, sê Chris Yelland, kragkenner van EE Business Intelligence.

Munisipaliteite moet steeds toestemming by Mantashe en die energiereguleerder, Nersa, kry en kwalifiseer net as hul Eskom-rekenings op datum is.

Volgens die regulasies sal munisipaliteite se aansoeke by die land se geïntegreerdehulpbronplan moet inpas en hulle sal die haalbaarheid van projekte moet kan bewys.

Yelland sê onder die munisipaliteite wat daarvoor gesit en wag het, is Johannesburg, Tshwane, Kaapstad, Ekurhuleni, eThekwini en Nelson Mandelabaai.

Die toestemming is volgens hom ’n stap vorentoe om kragvoorsiening in Suid-Afrika te diversifiseer sodat al die eiers nie meer net in die Eskom-steenkoolmandjie is nie.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het die nuus verwelkom, maar sê hy sal graag meer duidelikheid oor sommige aspekte by Mantashe wil kry.

Ntombifuthi Ntuli, bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Windkragvereniging, sê windkragaanlegte van minstens 10 MW met ’n kragkoopooreenkoms van 15 tot 20 jaar is ekonomies haalbaar. Dit werk goed om só ’n aanleg langs ’n groter een te posisioneer en koste te deel wat die voortsetting van die regering se grootskaalse kragaankoopprogram des te meer dringend maak.

Prof. Anton Eberhard

Die jongste toestemming volg nadat die regering reeds voorstelle gevra het vir 2 000 MW noodkrag wat volgende jaar in bedryf kan kom om Eskom se tekort aan te vul.

Mantashe het ook die bal aan die rol gesit vir die volgende ronde kragaankope van onafhanklike kragverskaffers. Die regering sal na verwagting teen Desember of vroeg Januarie tenders vra vir opwekkingsvermoë van 11 813 MW. Dit sluit in 6 800 MW uit hernubare energiebronne, bergingsvermoë vir 513 MW, 3 000 MW uit gasopwekking en 1 500 MW uit nuwe steenkoolopwekking.

Kenners meen dis steeds nie genoeg nie omdat al hoe meer van Eskom se steenkoolkragstasies die einde van hul ontwerpleeftyd nader en moet sluit.

Intussen vorder die ontbondeling van Eskom fluks.

Op ’n webinaar van Nedbank en EE Business Intelligence die afgelope week het André de Ruyter, Eskom se bestuurshoof, gesê die onafhanklike transmissiemaatskappy, wat ’n mededingende elektrisiteitsmark sal bedryf, is besig om ’n werklikheid te word.

Prof. Anton Eberhard, energiekenner van die Universiteit van Kaapstad se sakeskool, beskou dit as die belangrikste ontwikkeling in Eskom se geskiedenis.

Volgens De Ruyter sal die transmissiemaatskappy teen Maart volgende jaar funksioneel van Eskom geskei wees en teen einde 2021 sal dit ’n afsonderlike regspersoon wees, maar weliswaar steeds ’n filiaal van die Eskom-groep.

De Ruyter het daarop gewys dat Eskom nie beheer oor al die kritieke besluite en prosesse het nie. Regeringsbeleid, wetgewing en Nersa se regulatoriese raamwerk moet verander om by die nuwe omstandighede aan te pas. Eskom sal egter voortgaan om die markverhandelingstelsel, wat baie soos die JSE sal werk, intern te ontwikkel en toe te pas tot tyd en wyl die raamwerk die toetrede van buitepartye toelaat.

Volgens De Ruyter sal die ontbondeling kommer oor ’n belangebotsing by Eskom – wat krag opwek én toegang tot die elektrisiteitsmark beheer – uit die weg ruim.

As onafhanklike kragverskaffers weet hulle ding op gelyke voet met Eskom se afdeling vir kragopwekking mee, sal hulle met vrymoedigheid in die bedryf belê, het hy gesê.

Soos sake nou staan moet Eskom volgens De Ruyter in die volgende vyf jaar bykomende transmissielyne van 4 689 km oprig en daarna nog 3 567 km voor 2030. In die volgende vyf jaar is daar egter net geld vir ’n kwart van wat nodig is en net 62% daarvan in die volgende vyf jaar.

Die nuwe transmissiemaatskappy sal egter nie meer benadeel word deur die berg skuld wat die eenheid vir kragopwekking aangegaan het nie. Verskeie finansiers het reeds aangedui hulle sal met graagte kapitaal inploeg vir die oorgang na die nuwe bedeling en hernubare energie.

Eberhard het daarop gewys dat die plan wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ’n jaar gelede voorgelê het, in die vooruitsig stel dat die transmissiemaatskappy uiteindelik glad nie meer deel van Eskom moet wees nie, maar ’n afsonderlike staatsonderneming.

Dr. Miriam Altman van die Nasionale Beplanningskommissie wat nou betrokke was by die transformasie van Telkom, het gemaan dat monopolieë soos Eskom hulself selde vrywillig opbreek.

Volgens haar is daar vyf voorvereistes vir sukses:

  • Beleidsekerheid;
  • ’n Duidelike verbintenis deur die regering om dit deur te voer;
  • Stabiliteit en verantwoordbaarheid by Eskom se bestuur en direksie;
  • Die nodige vaardighede en kennis in die regering om Eskom te hervorm; en
  • Tyd. Daar is geen kitsoplossing nie, sê sy. Dit gaan drie tot vyf jaar vat.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.