Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Rebellie oor rade se absurde kragpryse

Twee fabrieke in Germiston aan die Oos-Rand is in dieselfde straat, maar die een betaal 50% – oftewel R21 miljoen per jaar – méér vir dieselfde hoeveelheid krag.

’n Mediumgrootte fabriek se kragkoste per jaar kan van R41 miljoen tot R62 miljoen wissel - dit hang net af waar hy sy krag moet koop.

Dít is een van die bisarre voorbeelde wat die Nelson Mandelabaaise sakekamer ophaal in ’n beswaar aan die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) as deel van die proses om nuwe munisipale tariewe goed te keur.

Die sakekamer beweer Nersa en die land se munisipaliteite verontagsaam wetgewing en pootjie daardeur verskeie sakeondernemings.

In die Germiston-voorbeeld moet die een fabriek krag koop by die Johannesburgse City Power. Net laer af in dieselfde straat verskaf Eskom regstreeks krag aan die ander fabriek.

En dié voorvalle vind landwyd in verskillende munisipaliteite plaas, sê die sakekamer.

Volgens die sakekamer sal ’n mediumgrootte fabriek wat drie skofte werk, maar nie naweke nie, se kragkoste per jaar tans tot R62 miljoen beloop as sy krag van Johannesburg se City Power kom. In Ekurhuleni sal dieselfde fabriek R53 miljoen betaal, in Durban R46 miljoen en in Kaapstad R45 miljoen.

As dieselfde fabriek sy krag regstreeks van Eskom kry, sal dit hom R41 miljoen kos.

“Tariewe verskil met soveel soos 50% tussen Eskom se regstreekse klante en munisipale verbruikers – en dit vir ’n identiese diens,” lui hul voorlegging.

Volgens die sakekamer bepaal die Wet op Elektrisiteitsregulering ’n munisipaliteit mag net die doeltreffende koste van die elektrisiteit plus ’n billike wins vra.

Vorige hofstryd
Die Nelson Mandelabaaise sakekamer het al voorheen vir Nersa getakel. Die sakekamer was een van ses applikante wat in 2016 geslaag het met ’n hofaansoek om Nersa se goedkeuring vir ’n bykomende Eskom-tariefverhoging vir die verhaling van uitgawes wat die kragreus in 2013-’14 aangegaan het, tersyde te stel. Die beslissing is egter later op appèl tersyde gestel.

Alvorens Nersa munisipale kragtariewe kan goedkeur, moet hy dus bepaal wat die koste is waarteen elke munisipale kragverskaffer krag lewer en bepaal of dit doeltreffend aangegaan is, sê die sakekamer. Daarna moet hy bepaal wat ’n billike winsgrens is.

Dít is die intense vergrootglas waaronder Nersa Eskom met elke tarief-proses plaas.

Maar pleks daarvan om dieselfde met munisipaliteite te doen, werk Nersa eerder met ’n riglyn-stelsel waar hulle net munisipaliteite se beplande verhogings beoordeel vir billikheid.

Die groot metro’s wat al begrotings gefinaliseer het, het almal by dié riglynverhoging vir 2019-’20 gebly, maar almal se tariewe vir 2018-’19 het in die eerste plek verskil.

Die gevolg is dat kragtariewe vir sakeondernemings al hoe meer skeefgetrek raak, sê die sakekamer, en dit op arbitrêre gronde soos hul adresse.

“Dit is onbegryplik dat die onderliggende kostestruktuur om 11 kV-krag te lewer in een straat in Germiston so drasties kan verskil bloot omdat Eskom die een verskaffingslyn besit en die munisipaliteit die ander.”

Wat is doeltreffende koste?

Die sakekamer sê Nersa weet duidelik nie wat die doeltreffende koste vir elkeen van die munisipaliteite is nie en verontagsaam daardeur die wet.

Volgens die elektrisiteitsprysbeleid moet elke verspreider minstens elke vyf jaar ’n studie doen oor wat hul doeltreffende koste vir elektrisiteit is.

Tariefaansoeke

Nersa moet in die volgende paar weke die onderskeie munisipaliteite se tariefaansoeke verwerk.

Dit sal dan eers duidelik wees of Nersa hom steur aan die sakekamer se beswaar of nie en of die sakekamer Nersa weer in die howe gaan pak.

Nersa het by navraag aan Rapport gesê die reguleerder het in Januarie 2014 beslis dat alle kragverspreiders studies moet doen om die koste van hul kragverskaffing te bepaal.

Die besluit is herhaaldelik aan die verspreiders oorgedra, en hulle is twee jaar later per brief daaraan herinner.

In 2017 het Nersa ’n verbintenis van elke munisipale verspreider gevra “met inagneming van hul vaardighede en hulpbronne” tot ’n datum waarin die reguleerder die studie se resultate kan verwag.

Tot dusver het net 34 van die meer as 180 munisipale kragverspreiders egter die studies voltooi en ingedien, het Nersa aan Rapport erken.

Nersa sê egter hy verwag dat almal wel teen 2020-’21 aan die vereiste sal voldoen.

Intussen, sê Nersa, maak hy staat op tegniese en finansiële inligting wat munisipaliteite verskaf.

Volgens die Nelson Mandelabaaise sakekamer is die inligting egter nie geoudit nie en dus is dit onmoontlik om die betroubaarheid daarvan te bepaal. Die tarief-standaard is gegrond op inligting van 2016-’17, die laaste wat geoudit is.

Sonder geverifieerde finansiële syfers is dit onmoontlik om te bepaal of die tariewe die ware koste weerspieël en wat ’n billike wins daarop is, sê die sakekamer.

Selfs al sou die syfers betroubaar wees, beteken dit steeds nie die koste wat munisipaliteite deurgee, is doeltreffend aangegaan nie, sê die sakekamer.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.