Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Regering se blaps ‘kan kragskepe kelder’

Die versuim van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en verskeie van sy voorgangers om ’n onafhanklike hawe-owerheid daar te stel, kan glo planne vir noodkrag van drie Turkse kragskepe in die wiele ry.

Die kragskepe, wat vir die hawens van Richardsbaai, Koega en Saldanha bestem is, moet vooraf toestemming van die hawe-owerheid kry, maar die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA), wat die land se agt kommersiële hawens bestuur, het volgens die hawereguleerder geen wetlike status nie.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens sy onlangse besoek aan die Durban-hawe. Foto: GCIS

Die TNPA is bloot ’n afdeling van Transnet. Die hawereguleerder van Suid-Afrika het al in 2016 bevind ooreenkomste wat Transnet namens die TNPA aangaan, is aanvegbaar en kan ongedaan gemaak word.

Die departement van energie het Karpowership SA onlangs aangewys om drie van die agt noodkragprojekte te lewer wat die land van beurtkrag moet red. Omgewingsgroepe is teen die projekte gekant, terwyl ’n mededinger, DNG Energy, die toekenning in die hof beveg weens beweerde korrupsie.

Bloomberg het boonop die afgelope week berig Eskom is self baie langtand om ’n kragkoopooreenkoms met Karpowership te sluit.

Die feit dat daar 15 jaar nadat die Wet op Nasionale Hawens in werking getree het nie ’n hawe-owerheid met wetlike status is nie, kan teenstanders van die projekte die skietgoed gee om die kragskipprojekte te sink, sê Jan Scheepers, direkteur van Siyakhuphuka Beleggings.

Dié onderneming is in ’n hofstryd met Gordhan, Transnet en nog partye gewikkel oor onder meer die nie-nakoming van die Hawewet.

Dit is juis danksy dié litigasie dat die reguleerder se verslag aan die lig gekom het, ten spyte van verbete pogings deur die reguleerder self om dit geheim te hou.

Die ontwikkeling van die Durban-hawe in ’n vragspilpunt vir die hele vasteland, wat pres. Cyril Ramaphosa verlede week tydens ’n inspeksiebesoek in die vooruitsig gestel het, kan om dieselfde rede skipbreuk ly, sê Scheepers.

Die uitbreidings, wat oor die volgende tien jaar of meer beplan word, sal volgens Ramaphosa beleggings van R100 miljard verg. News24 het berig Transnet sal na verwagting later vanjaar ’n konsessie adverteer om die nuwe Puntterminaal te bou en bedryf.

Of private beleggers só ’n ooreenkoms sal aangaan met ’n entiteit wat nie wetlik daartoe gemagtig is nie, is ’n ope vraag, sê Scheepers.

Ramaphosa het in ’n verklaring ná sy besoek gesê “intensiewe werk is aan die gang” om die TNPA te korporatiseer. Dit is die regering se plan om die TNPA in ’n aparte filiaal van Transnet te omskep sodat dit aan die wetsvereistes kan voldoen.

Die Wet op Nasionale Hawens bepaal die hawe-owerheid moet onafhanklik wees en met ’n eie direksie en eie bankrekening. Sy inkomste moet aangewend word tot voordeel van die land se kommersiële hawens, deur byvoorbeeld beleggings in infrastruktuur en om tariewe laag te hou.

Die feit dat die TNPA deel van Transnet is, veroorsaak botsende belange omdat Transnet ook ’n vervoer- en vraghanteringsafdeling het wat die hawens gebruik en met ander gebruikers meeding. Transnet is dus as’t ware speler én skeidsregter, sê Scheepers.

Siyakhuphuka het juis onder dié bedeling sy rieme styfgeloop toe die TNPA sy voorstel in 2008 om ’n houerterminaal van R3 miljard saam met APM Terminals, sustermaatskappy van die wêreld se grootste skeepsvragoperateur, Maersk, in Richardsbaai te bou, afgekeur en daarna die toestemming daarvoor aan ’n ander afdeling van Transnet, Transnet Port Terminals (TPT), gegee het.

Die litigasie is ook daarop gemik om dié besluit om te keer.

Siyakhuphuka het reeds ’n hofdatum vir die aanhoor van sy aansoek gekry, maar dit is eers volgende jaar.

Die groep oorweeg nou op grond van Ramaphosa se aankondiging om ’n aansoek aan die regter-president te rig om dit te vervroeg, aangesien Transnet volgens hom besig kan wees om sy dominante posisie met die nuwe planne onomkeerbaar te probeer vaslê voordat hy sy greep op die hawe-owerheid verloor.

Die regering se traagheid om die TNPA van Transnet los te maak is waarskynlik weens die impak wat dit op die groep se geldsake kan hê.

In 2019-’20 het die TNPA R12 miljard se omset gelewer wat 14% tot die groep se totale omset bygedra het. Die groep het R133 miljard se skuld gehad, gegrond op ’n balansstaat wat die aansienlike bates van die TNPA insluit.

Gordhan het verlede jaar aangedui hy gaan konsultante aanstel om die invloed van die korporatisering op Transnet te bepaal.

Sy departement het teen druktyd nie gereageer op vrae oor die vordering met die korporatisering van die TNPA nie.

Meer oor:  Transnet  |  Tnpa  |  Hawens  |  Infrastruktuur  |  Kragskepe  |  Noodkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.