Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Riool, kookolie kan teen 2030 alle vliegtuie dryf

Daar is genoeg onverwerkte materiaal in die ekonomie om genoeg brandstof vir vliegtuie te maak uit afvalmateriaal sodat elke vliegtuig op aarde teen 2030 kan wegbeweeg van fossielbrandstowwe.

Vliegtuie kan reeds brandstof gebruik wat van rioolvuil of kookolie-afval gemaak word, en die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) wil hê teen 2030 moet alle vliegtuie dié koolstofneutrale brandstof benut. Foto: Unsplash

Dis die bevinding van ’n nuwe verslag deur die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) wat vandeesweek gepubliseer is.

Sogenaamde volhoubare lugvaartbrandstowwe (SAF) word reeds deur 250 000 vliegtuie wêreldwyd gebruik, maar net 200 000 ton daarvan word jaarliks vervaardig.

Dis net ’n klein fraksie van die 300 miljoen ton brandstof wat lugvaart oor die wêreld heen jaarliks verbruik het voordat die Covid-19-pandemie lugvaart lamgelê het.

SAF word gemaak deur afval-kookolie, munisipale afval of landbou-reste te verwerk.

Dit is nog ’n duur proses wat daartoe lei dat SAF meer as twee keer soveel kos as normale lugvaartbrandstof wat van ruolie vervaardig word.

Maar SAF is koolstofneutraal omdat dit net afvalmateriaal benut om brandstof te vervaardig en dus geen nuwe koolstofvrystellings in die omgewing meebring nie.

Lugvaart se gebruik van fossielbrandstowwe dra 3% van alle menslike koolstofvrystellings per jaar by.

Bestaande vliegtuigenjins kan ook dadelik SAF gebruik sonder dat met die enjins gepeuter hoef te word en die tegnologie bestaan reeds.

Namate verdere innovasies en skaal-effektiwiteit in produksie bereik word, sal pryse weldra daal, meen die WEF.

“Ons sien die klassieke kan-nie-wen-nie-dilemma soos in ander besprekings oor energie-oorgange,” sê Daniel Riefer, vennoot by McKinsey & Company.

“Onvoldoende skaal per eenheid dryf koste hoër en hoë koste hou die vraag op sy beurt laag. Sommige strukturele oplossings kan die dooiepunt oplos, soos kontrakte tussen maatskappye, prioriteitsvliegtuig- en lughawetariewe, ensovoorts, wat brandstofprodusente die nodige ondersteuning sal bied om in produksievermoë te belê.”

Hoewel elektriese enjins en waterstof as brandstof ook sal lei tot geen koolstofvrystellings, sal dit nog 20 jaar duur voordag dié tegnologieë op skaal benut kan word, sê die WEF.

Selfs al kom dit vroeër in werking, sal dit eers net kleiner vliegtuie wees wat die nuwe tegnologie benut.

SAF kan binne tien jaar in elke bestaande vliegtuig gebruik word.

Nog ’n voordeel is dat ontluikende markte goed geposisioneer is om dit te vervaardig.

Sonder ingryping sal daar teen 2030 net vier miljoen ton per jaar SAF vervaardig word, sowat 1% van die verwagte vraag na brandstof in daardie stadium.

Die WEF is oortuig daarvan dat SAF die mark kan oorneem teen 2030 indien die produksie daarvan aandag kry. Hul verslag wys daar is oorgenoeg afvalmateriaal beskikbaar om honderdmiljoene liters brandstof per jaar te vervaardig.

Meer oor:  Wef  |  Afval  |  Ruolie  |  Lugdienste  |  Omgewing  |  Riool  |  Olie  |  Vliegtuie  |  Brandstof  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.