Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Rioolvuil loop dalk straataf weens beurtkrag

Die rioolnetwerk van verskeie van Suid-Afrika se grootste stede is onder erge druk weens beurtkrag.

Stede in Suid-Afrika sukkel om rioolvuil vinnig genoeg weg te pomp weens beurtkrag. Foto: Unsplash

Munisipale owerhede van Johannesburg, Pretoria, Ekurhuleni en Kaapstad het bevestig dat pompstasies die risiko loop om oor te loop sou beurtkrag voortduur.

Eskom het sedert verlede Saterdag vir ses dae in ’n ry fase 4-beurtkrag ingestel, wat tot 20% van Suid-Afrika op ’n gegewe tydstip sonder elektrisiteit gelaat het.

Hoewel beurtkrag intussen afgestel is, waarsku die kragreus die stelsel is steeds kwesbaar.

Daar word verwag dat kragonderbrekings steeds in die komende maande toegepas gaan word soos wat Eskom sukkel om aan die vraag na elektrisiteit te voldoen.

Themba Gadebe, woordvoerder van die Ekurhuleni-metro, bevestig dat rioolvuil reeds by vyf van sy pompstasies begin oorloop het.

Die meeste van die metro se pompstasies word egter deur kragopwekkers van elektrisiteit voorsien tydens beurtkrag, sê Gadebe.

Nthatisi Modingoane, woordvoerder vir Johannesburg, sê beurtkrag het ’n “rampspoedige” uitwerking op die metro se infrastruktuur.

“Om die kragnetwerk weer aan te skakel, het ’n nadelige invloed op die reeds verouderde infrastruktuur wat kan lei tot die onklaarraking daarvan,” sê hy.

“Ons kan vir nou nog al die noodsaaklike gebiede van alternatiewe krag voorsien.”

Volgens Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, sal beurtkrag waarskynlik die metro se rioolstelsel beïnvloed.

“Watervoorsiening sal ook geraak word in gevalle waar ons water na opgaardamme moet pomp, aangesien al hierdie pompe nie van kragopwekkers voorsien is nie.”

Xanthea Limberg, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir water- en sanitasiedienste, sê kleiner rioolpompe hou die grootste gevaar in, aangesien groter pompstasies in 2014 met kragopwekkers toegerus is.

Limberg sê wel kleiner pompstasies is van alarmstelsels voorsien wat amptenare vroegtydig waarsku sou die rioolvuil dreig om te oorstroom.

Sodra ’n alarm afgaan, word mobiele kragopwekkers geïnstalleer by die betrokke stasie.

“Hoewel dit tydens erge beurtkrag, wanneer ’n groot deel van die stad sonder elektrisiteit is, nie altyd moontlik is om oorstromings heeltemal te voorkom nie.

“In so ’n geval sal bedryfspanne hul bes doen om oorstromings te beperk en op te ruim.” - Business Insider

Meer oor:  Eskom  |  Beurtkrag  |  Riool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.