Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
SA die agteros wat kraghervorming betref

Die skep van ’n onafhanklike stelseloperateur is die belangrikste stap om Suid-Afrika se kragbedryf te hervorm sedert Eskom gestig is, sê prof. Anton Eberhard van die Universiteit van Kaapstad.

Suid-Afrika is agter sy Brics-vennote met kraghervorming. Foto: South Africa Wind Energy Association

Eskom se huidige struktuur spruit uit die vorige eeu en maak nie vandag meer sin nie, het hy gesê op ’n webinaar wat Nedbank en EE Business Intelligence gereël het. Eberhard, wat in elektrisiteitsregulering spesialiseer en ’n vorige kommissaris van die nasionale beplanningskommissie is, sê Eskom se struktuur as staatsbeheerde monopolie het dalk 80 jaar gelede sin gemaak om skaalvoordele in die bou van groot kragstasies te benut. Maar innovasie en tegnologiese vordering het die noodsaak daarvoor weggekalwe.

Kapitaalmarkte maak private belegging moontlik, en innovasie in inligtingstegnologie maak mededinging in die kragmark moontlik. Eskom se huidige struktuur is dus vandag ongewoon en uitgedien, selfs vergeleke met die res van die wêreld.

Hervorming van nutsmaatskappye het al in die 1980’s in Chili, Brittanje en ander nywerheidslande begin en sedert die 1990’s in ander opkomende ekonomieë. Tot 106 lande het al hul kragmaatskappye ontbondel, insluitend al vier die ander vennote van Suid-Afrika in die Brics-groepering.

“Ons sit nog vas in die verlede met die ou tradisionele model, wat groot koste het en ruimte vir ondoeltreffendheid, korrupsie, en ’n gebrek aan deursigtigheid en verantwoordbaarheid laat.”

Dit maak sin om Eskom in drie te verdeel want kragopwekking, transmissie en distribusie is drie baie verskillende soort ondernemings, sê Eberhard.

Tans is Eskom egter “te groot om te misluk” en dit skep volgens hom perverse aansporings vir die bestuur en arbeid om die status quo te handhaaf.

Die herstrukturering sal die kragsektor fundamenteel transformeer en die belangebotsing verwyder wat Eskom het om sowel kragopwekker en aangewese enkele aankoper van krag te wees.

Sal ‘soos JSE werk’

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het verduidelik die beoogde onafhanklike netwerkoperateur waarin Eskom se transmissie-afdeling verander gaan word, sal soos die JSE werk om ’n platform te verskaf vir kragverkope, en om niediskriminerende toegang aan alle partye te bied wat krag oor die netwerk wil stuur.

Hy het gewaarsku sowat 10 000 MW se kragopwekking sal oor die volgende dekade gesluit moet word, wat ekstra druk op die stelsel plaas. ’n Groot deel van die gaping sal gevul moet word met hernubare energie, maar om dié golf van nuwe beleggings te hanteer sal die transmissienetwerk versterk moet word.

Tot 8 000 km se nuwe kraglyne sal oor die volgende dekade gebou moet word om dit moontlik te maak. Hy waarsku dat weens die besnoeiing van Eskom se kapitaalbesteding en die uitstel van projekte sal net 25% van die eerste vyf jaar se 4 689 km gebou kan word.

10 000 MW se kragopwekking sal oor die volgende dekade gesluit moet word, wat ekstra druk op die kragstelsel gaan plaas.
André de Ruyter

Finansiering vir die nodige netwerkuitbreiding om meer groenkrag op die netwerk te kan hanteer, is volgens De Ruyter egter redelik beskikbaar, met die Wêreldbank, die Duitse en Franse ontwikkelingsbanke asook die Brics-bank wat bereid is om te help.

Die verwagte groei in private krag vereis ’n onafhanklike transmissienetwerk en kragmark, anders sal daar altyd kommer wees oor potensiële vooroordeel jeens Eskom se eie bronne, het hy verduidelik.

Volgens De Ruyter sal die funksionele verdeling van Eskom in drie dele al teen Maart volgende jaar afgehandel wees, met die regstegniese verdeling van die transmissie-afdeling wat al teen Desember volgende jaar voltooi kan wees. Die regstegniese oprigting van die ander twee afdelings kan teen Desember 2022 voltooi wees.

Sowat 9 600 werknemers is al uit Eskom se hoofkantoor na die afdelings geskuif.

“Die proses is onomkeerbaar. Ons is daartoe verbind en gaan voort.”

De Ruyter het gewaarsku dat baie van die aspekte in die verdelingsproses egter buite Eskom se beheer is en afhanklik van besluite van buite soos regulatoriese, lisensiërings- en kontrakgoedkeuringsbesluite is. Dit is potensiële vertragings wat nie binne Eskom se beheer is om te versnel nie. Eskom mik wel om die onafhanklike netwerkoperateur teen Desember 2022 op die been te hê.

Staatskaping

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het op die webinaar gesê die mense wat tans voor die Zondo-kommissie oor die staatskaping by Eskom kom met verskonings soos “ek het nie geweet nie” en “ek het niks gedoen nie”, moet verantwoordelikheid aanvaar.

Staatskaping het aansienlike koste meegebring.

Dit is De Ruyter en sy span wat nou dié skade moet herstel.

Meer oor:  Eskom  |  Andre De Ruyter  |  Pravin Gordhan  |  Elektrisiteit  |  Energie  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.