Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
SA fabrieke gebruik 11% minder steenkool

’n Kortstondige opbloei in die vraag na steenkool word volgende jaar voorspel, en daar is min tekens dat die wêreld se steenkoolverbruik oor die komende jare enigsins wesenlik gaan krimp.

’n Hommeltuig-foto van ’n ertsdraer wat vol steenkool gelaai word. Foto: Shutterstock/IEA

Die stygende vraag vanuit Asië kanselleer die afname in steenkoolverbruik elders uit, meen die Internasionale Energieagentskap (IEA) in sy jongste steenkoolverslag.

In Suid-Afrika het Eskom se steenkoolverbruik vanjaar met 2,7% gedaal, en steenkoolverbruik vir hitte-opwekking deur nywerhede het met ’n hele 11% geval.

Sasol het 2,5 miljoen ton minder steenkool gebruik om brandstof en ’n verskeidenheid chemikalieë te vervaardig, volgens die IEA se Coal 2020-verslag.

Die internasionale vraag na steenkool het in 2019 met 1,8% gekrimp weens swak groei in kragvraag en lae gaspryse, wat van aardgas ’n gewilder alternatiewe brandstof gemaak het. En die IEA se jongste ramings is dat steenkoolvraag in 2020 met 5% sal afneem weens die ekonomiese impak van die koronaviruspandemie.

Die afname in internasionale steenkoolvraag die afgelope twee jaar is gedryf deur ongekende dalings in gebruik in die VSA en Europa.

Maar die pandemie het die steenkoolmark heeltemal omgekeer, meen Keisuke Sadamori, direkteur vir energiemarkte by die IEA. “Voor die pandemie het ons ’n effense herstel in steenkoolvraag vir 2020 voorspel, maar pleks daarvan het steenkoolverbruik met die skerpste sedert die Tweede Wêreldoorlog geval.”

Die val sou dieper gewees het was dit nie vir die sterk ekonomiese herstel in China in die tweede helfte van die jaar nie. China gebruik die meeste steenkool in die wêreld.

Die IEA verwag die herstel in steenkoolvraag sal in 2021 van korte duur wees, en dit kan teen 2025 op 7,4 miljard ton stabiliseer. Dit sal beteken 2013 was die beste jaar ooit vir steenkool, toe sowat 8 miljard ton verbruik is.

Hoewel steenkool se aandeel in die krag- en energiemark stelselmatig krimp, verwag die IEA nie dat steenkoolverbruik in absolute terme gou sal afneem nie.

Asië is die plek waar daar oor die toekoms van steenkool besluit sal word, sê Sadamori. China en Indië verbruik 65% van die hele wêreld se steenkool. China alleen gebruik die helfte van die wêreld se steenkool. As Japan, Taiwan, Suid-Korea en Suidoos-Asië bygevoeg word, styg die markaandeel tot 75%.

Daarenteen sal Europa en Amerika teen 2025 minder as 10% van die wêreld-steenkoolvraag verteenwoordig, teenoor 37% in 2000.

Die IEA verwag steenkoolontginning sal vanjaar met 6,5% daal nadat dit in 2019 met 1,5% tot 7,953 miljard ton gegroei het.

SA produksie

Hoewel Suid-Afrikaanse steenkoolmyne tydens die staat van inperking oop was, word verwag dat steenkoolproduksie in 2020 steeds 7% laer sal wees.

Die IEA meld dit is ’n kleiner as verwagte daling as in Australië en Indonesië, omdat Suid-Afrikaanse steenkoolprodusente kan steun op relatief stabiele uitvoerkontrakte.

Die laer produksie is meer weens swakker binnelandse vraag, veral van Eskom.

Die IEA verwag plaaslike steenkoolproduksie sal in 2021 net effens met 1,5% herstel. Dit is veral kleiner steenkoolmyne wat deur laer verkope en laer pryse getref is, terwyl grotes soos Exxaro en Glencore die insinking beter kon oorleef.

Die grootste nuwe steenkoolmyn wat volgende jaar in bedryf kan kom, is volgens die IEA se inligting dié van Resource Generation by sy Boikarabelo-myn in die Waterberg-steek in Limpopo, met ’n verwagte produksie van 6 miljoen ton per jaar.

Suid-Afrika se steenkooluitvoer het van 82 miljoen ton in 2018 tot ’n verwagte 75 miljoen ton vanjaar gekrimp, volgens die IEA. Dit kan wel teen 2025 tot 77 miljoen ton herstel.

Suid-Afrika het in 2019 7% van die wêreld se termiese steenkool (vir kragopwekking) verskeep, volgens die IEA se syfers. Die land se steenkooluitvoer het in 2019 wel met 1,8% gedaal, en hoewel hy minder steenkool na Europa en die res van Afrika uitgevoer het, is meer Suid-Afrikaanse steenkool na Indië, Pakistan en Suidoos-Asië uitgevoer. Die IEA verwag sy uitvoer sal vanjaar met 5 miljoen ton krimp, en volgende jaar net effens herstel.

Meer oor:  Eskom  |  Besoedeling  |  Steenkool  |  Steenkoolmyn  |  Fabrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.