Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘SA, leer by Mosambiek oor gas’

Suid-Afrika kan óf soos Mosambiek ’n lewendige gas-ekonomie skep óf sy foute soos met die Mynbouhandves herhaal en die kans verspeel.

Dít was die boodskap van potensiële beleggers en regskenners by die jaarlikse Africa Oil Week wat in Kaapstad gehou is.

’n Argieffoto van ’n gaspypleiding in Mosambiek. ’n Reuse-gasvonds wat in 2010 aan die land se noordkus ontdek is, het miljarde rande se beleggings na die land gelok.

Peter Leon, vennoot by die regsfirma Herbert Smith Freehills wat spesialiseer in olie, gas en mynbou, het aan afgevaardigdes gesê Mosambiek het ’n reuse­inspuiting in sy ekonomie bewerkstellig deur dit vir beleggers so maklik moontlik te maak om bankrekeninge oop te maak en toe te laat dat winste en dividende gerepatrieer kan word.

In 2010 is reuse-gasreserwes in die Rovuma-kom aan die noordkus van Mosambiek ontdek, wat sedertdien gelei het tot miljarde rande se beleggings en wat die land in staat stel om een van die wêreld se voorste verskaffers van skoon energie te word.

“Mosambiek het ’n inspuiting van $80 miljard gekry – in ’n land met ’n bruto binnelandse produk (BBP) van $15 miljard,” sê Leon. Hy sê Mosambiek het by Noorweë – wat die derde grootste gasprodusent ter wêreld is – gaan aanklop oor hoe om sy wetgewing so gunstig moontlik vir beleggers te struktureer.

“In teenstelling met Tanzanië, wie se gasekonomie ook in sy kinderskoene staan, volg Mosambiek internasionale bestepraktyk en is sy regulasies toegespits op beleggings,” sê Leon.

In Suid-Afrika is daar weer eens onsekerheid oor beleid en wetgewing. ’n Afsonderlike wet om olie- en gaseksplorasie te reguleer is in wording, maar daar is nog geen uitsluitsel oor die finale inhoud in die wetgewing nie.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het vroeër gesê die konsepwetgewing behoort in die eerste helfte van 2020 uitgereik te word.

Die departement het wel onlangs aan parlementslede gesê daar is ’n voorstel dat die regering ’n 20%-belang verkry in eks­plorasie en produksie van olie- en gaseksplorasie. Dit is ook uitgestippel in die aanvanklike Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA).

Niall Kramer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Olie- en Gasalliansie (Saoga), het aan Rapport gesê beleggers se geld volg die weg van die minste weerstand en die belowendste bestemming. “Onthou, hulle het geleenthede oral ter wêreld, maar ’n beperkte hoeveelheid geld vir eksplorasie.”

Die regering blyk egter vasbeslote te wees om ’n wesenlike deelname in die petroleum- en gasbedryf te hê, en voorstelle soos ’n 20%-belang vir die staat skrik private beleggers af.

Leon het ook gewaarsku dat die regering nie dieselfde foute moet begaan as met die Mynbouhandves nie. Die voorwaardes in die handves – veral die diskresionêre magte wat aan die regering toegeken word, sowel as swartbemagtigingsvereistes – maak die land onaantreklik vir beleggers en prospekteerders.

Dit is uiters positief dat Total te midde van die regulatoriese onsekerheid die risiko van gaseks­plorasie onderneem het wat uiteindelik gelei het tot ’n gasvonds in die Brulpadda-gasveld aan die Suid-Kaapse kus. Die ontdekking is in Februarie vanjaar aangekondig en word beskou as ’n katalisator vir hernude belangstelling in Suid-Afrika se olie- en gasbedryf.

Tebogo Motloung, waarnemende bestuurder by die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa), het op die konferensie gesê daar moet ’n balans wees tussen die regte van prospekteerders en die belange van gemeenskappe en die regering wanneer hulpbronne ontgin word.

Meer oor:  Peter Leon  |  Gwede ­Mantashe  |  Mosambiek  |  Brandstofbedryf  |  Departement Van Minerale Bronne  |  Brandstof  |  Gas  |  Energie  |  Petroleum  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.