Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
'SA op pad na nog ’n kragkrisis'

Suid-Afrika stuur op nog ’n kragkrisis af omdat Eskom binne die volgende dekade meer as ’n derde van sy kragopwekkingsvermoë sal verloor.

Dit is die waarskuwing van energiekenners.

Hulle meen ook dat huidige planne van die regering om nuwe energie op te wek nie genoeg sal wees om die tekort uit te wis nie.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief uitgewei het oor die regering se planne om in die aanvraag na krag te voorsien.

As deel hiervan het Ramaphosa ’n groot ophef gemaak van die nuwe ministeriële bepalings wat onafhanklike kragprodusente sal toelaat om “11 800 MW” krag aan Eskom te verkoop.

Dié krag sal uit son, wind, gas en steenkool opgewek word.

Chris Yellend, ’n energiekenner, meen egter dat slegs sowat die helfte van die 11 800 MW op die ou end by die nasionale kragnetwerk gevoeg sal kan word.

“Omdat die wind nie die heeltyd waai nie en die son nie die heeltyd skyn nie, sal hernubare kragopwekking nooit optimaal wees nie.

“Gas is weer baie duur en sal waarskynlik net in sekere gevalle gebruik word terwyl produsente gaan sukkel om finansiering te kry vir ’n steenkoolkragstasie omdat banke nie vuil energie wil steun nie,” sê Yellend.

Omdat die wind nie die heeltyd waai nie en die son nie die heeltyd skyn nie, sal hernubare kragopwekking nooit optimaal wees nie.

Eskom se opwekkingsvermoë is sowat 30 000 MW, en daar word beraam dat hy ’n ekstra 5 000 MW tot 8 000 MW nodig het om beurtkrag te voorkom.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het by navraag bevestig dat tussen 8 000 MW en 12 000 MW van Eskom se opwekkingsvermoë oor die volgende “ruk” sal verdwyn weens verouderende kragstasies wat moet sluit.

“Die leeftyd van ’n paar van ons kragstasies is reeds met vyf of tien jaar verleng en hulle sal een of ander tyd nie meer bedryf kan word nie.”

Gas is weer baie duur en sal waarskynlik net in sekere gevalle gebruik word terwyl produsente gaan sukkel om finansiering te kry vir ’n steenkoolkragstasie omdat banke nie vuil energie wil steun nie.

Volgens Mantshantsha is die kragverskaffer daarom baie dankbaar vir die regering se planne om die bykomende krag te laat voorsien.

Of dié ekstra kapasiteit genoeg sal wees, het Mantshantsha gesê Eskom is “dankbaar vir elke ekstra MW wat ontvang word”.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het Vrydag die ministeriële bepalings in die Staatskoerant uitgereik waarvolgens die “11 8000 MW” tussen 2022 en 2027 by die nasionale kragnetwerk gevoeg sal word.

Die private kragprodusente sal die krag aan Eskom verkoop en op die ou end sal verbruikers daarvoor moet opdok.

Luidens Ramaphosa se brief sal projekte geprioritiseer word wat krag die vinnigste sal kan verskaf. Die proses om bieërs te nooi om aansoek te doen vir tenders sal die volgende stap wees.

Die eerste kragopwekkingseenhede sal waarskynlik op die vroegste eers teen einde 2022 gereed wees.

Die regering wil ook sowat 2 000 MW laat opwek deur van ’n noodverkrygingsproses gebruik te maak, wat die proses bespoedig.

Volgens Ramaphosa vorder Eskom met die invordering van geld wat munisipaliteite hom skuld.

Regulasies gaan ook binnekort gepubliseer word oor munisipaliteite met ’n goeie kredietrekord wat toegelaat sal word om krag regstreeks by onafhanklike kragverskaffers te koop.

Ted Blom, nog ’n energiekenner, meen as die regulasies goedgekeur word, sal sowat tien munisipaliteite, waarvan meeste in die Wes-Kaap is, en die Kaapstad-metro insluit, die roete volg.

“Dit sal aansienlik druk op die nasionale kragnetwerk verlig. Die regering moet kragverskaffing privatiseer.”

Hy benadruk dat Eskom volgens hom nie gered kan word nie. Eskom se skuld van R450 miljard vroeër het intussen met miljarde rande verder gestyg.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, meen dit is ’n belangrike stap deur die regering om onafhanklike kragprodusente toe te laat om krag te verskaf.

Die regering moet kragverskaffing privatiseer.

“Enige stappe om dit makliker te maak vir die private sektor om betrokke te raak om elektrisiteit te verskaf, is ’n positiewe stap om beter, meer stabiele en dalk skoner en goedkoper elektrisiteit te verskaf.”

Volgens haar is dit egter baie belangrik dat die proses so spoedig en doeltreffend as moontlik afgehandel word.

Meer oor:  Ted Blom  |  Lullu Krugel  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Eskom  |  Kragkrisis  |  Chris Yellend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.