Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
SA se eie welvaartfonds? Total se gas kan help

As Suid-Afrika nog meer olie- en gasvondse kan hê soos Total se onlangse ontdekking, kan die land ’n soewereine welvaartfonds skep soos wat talle olieryke lande het, het Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, in die parlement gesê.

gwede
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne.

Mantashe het Woensdagmiddag vrae in die parlement geantwoord en gesê Total se gasontdekking het groot potensiaal om ekonomiese groei, werkskepping en groter energie-onafhanklikheid aan Suid-Afrika te bied.

Total het in Februarie aangekondig hy het gaskondensaat ontdek in sy Brulpadda-eksplorasieveld sowat 175 km suid van die Suid-Kaapse kus.

Mantashe het beklemtoon meer inligting is nog nodig om die potensiaal van die vonds vir die ekonomie te bepaal, maar dit kan Suid-Afrika se blootstelling aan die wisselvalligheid van internasionale oliepryse verminder.

“Dit is nog te vroeg om die volle omvang van hierdie geleentheid te bepaal, maar daar is ’n potensiaal om die afhanklikheid van invoer van olie en gas aansienlik te verklein. Dit kan ook help om ons eie olie- en gassektor as ’n onafhanklike en stabiele sektor te ontwikkel,” sê Mantashe.

“Wanneer ons op volle produksie van olie en gas is, kan ons moontlik teen 5% per jaar groei, en bied dit ook ’n rare geleentheid om ’n soewereine welvaartfonds te vestig wat in so baie olieryke lande te sien is,” het hy gesê.

Parlementslede het gekla oor te min plaaslike vennote in die Brulpadda-eksplorasie.

Mantashe sê “transformasie is aan die kern van alles wat ons doen”.

As daar gekyk word na die aandeelhouding van die span wat die eksplorasie doen, is net 10% in Suid-Afrikaanse beheer.

“Dit is waarom ek glo ons kan ingryp in daardie ruimte deur ’n soewereine welvaartfonds te skep om die voordeel van daardie ontdekking vir toekomstige geslagte te bewaar.”

Wat is 'n soewereine welvaartfonds?

’n Soewereine welvaartfonds is ’n staatsbeheerde fonds afsonderlik van die staatskas waarin die staat ekstra wins uit die land se oliebedrywighede stort. Dit ontwikkel dan tot ’n stewige spaarvarkie waaruit belangrike strategiese beleggings in maatskaplik-ekonomiese projekte gedoen kan word.

In Afrika word welvaartfondse, soos die een van Angola wat in 2012 gestig is, benut om in langtermyn-infrastruktuur te belê waaruit volgende geslagte voordeel kan trek as die oliebronne nie meer daar is nie, verduidelik prof. Mthuli Ncube van die Quantum Global Research Lab in ’n artikel van African Business Insight.

Daar is al meer as tien welvaartfondse in Afrika. In Ghana word minstens 9% van die land se jaarlikse olie-inkomste in sy sogenaamde erfenisfonds gestort, berig The Economist. Maar in opkomende ekonomieë soos dié in Afrika is daar voortdurend druk op die regering om die welvaartfondse te benut vir onmiddellike en dringende behoeftes eerder as om dit vir volgende geslagte te bewaar. In ryker lande soos Noorweë belê die welvaartfonds in die buiteland en slegs die jaarlikse opbrengs word bestee.

Die idee van ’n welvaartfonds vir Suid-Afrika spruit al sedert verlede jaar toe ’n lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee dit voorgestel het. Die ANC wil ook mynbouwinste in die fonds stort en dit as ’n stabiliseringsfonds gebruik.

Maar ekonome dink so ’n fonds in Suid-Afrika is onrealisties gegewe die massiewe staatskuld en ’n begrotingstekort, het City Press in Augustus verlede jaar berig.

Lees die oorspronklike berig van Fin24 hier.

Meer oor:  Brulpadda  |  Total  |  Gwede Mantashe  |  Eksplorasieveld  |  Soewereine Welvaartfonds  |  Oliebedryf  |  Gasveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.