Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
SA se ‘Mnr. Elektrisiteit’ sterf op 90

Eskom se eerste uitvoerende hoof, dr. Ian McRae, is Sondagoggend in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

45
Dr. Ian Mcrae. Foto: Eskom

Dis nog onbekend waaraan hy dood is.

McRae was bekend as “Mnr. Elektrisiteit” en word geprys as die mens wat toesig gehou het oor die konstruksie van die land se groot kragsentrales, waaronder die steenkoolkragstasies Kriel, Matla, Duvha, Tutuka, Lethabo, Mathimba, Kendal en Majuba, die hidroëlektriese stasies Gariep, Vanderkloof en Cahora Bassa, die pompopgaarstasies Drakensberg en Palmiet, en die Koeberg-kernkragstentrale.

Baie van dié kragstasies nader nou die einde van hul leeftyd en hul probleme is deel van die rede waarom die land opnuut sedert Vrydag beurtkrag beleef.

McRae het Eskom van 1985 tot 1994 gelei.

Hy het in 1947 as vakleerling-passer by Eskom begin werk, volgens Eskom se webwerf.

Hy was die eerste Eskom-werknemer wat danksy ’n beurs van die kragreus kon gaan studeer. Hy het uiteindelik ’n doktorsgraad in meganiese ingenieurswese verwerf.

Hy was daarna onder meer hoof van sentrale opwekking, bedryfshoof en hoof van ingenieurswese voordat hy in 1985 uitvoerende hoof geword het.

Hy was bedryfshoof toe vier kleefmyne in 1982 by Koeberg ontplof het in ’n sabotasievoorval.

Hy was ook betrokke by die oprigting van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), waarvan hy die eerste voorsitter was ná sy aftrede by Eskom. Hy het dié posisie van 1994 tot 1997 beklee.

André de Rutyer, huidige uitvoerende hoof van Eskom, het sy meegevoel met McRae se familie betuig. Hy sê McRae het ’n “enorme en transformerende impak op Suid-Afrika se energiebedryf” gehad.

McRae is nasionaal en internasionaal erken vir sy tegniese kundigheid en ook vir sy leierskap. Hy het verskeie eretitels verwerf, onder meer ’n eredoktersgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand in 1989 uit erkenning vir sy rol in die ekonomiese opheffing van Suid-Afrika en sy buurlande.

Volgens die sitasie vir die eredoktersgraad wat prof. David Glasser van Wits gelewer het, was hy sy tydsgees vooruit met die visie dat “krag die potensiaal het om ’n platform te wees vir die ekonomiese opheffing – nie net van Suid-Afrika nie, maar ook van sy buurlande”. Hy het met buurlande saamgewerk in ’n era toe dit nie wyd ondersteun is nie.

McRae het met die ANC vergader toe dit nog ’n verbode organisasie was en word geprys vir die feit dat hy toegang tot krag vir alle Suid-Afrikaners bevorder het, het Chris Yelland, voormalige uitgewer van EE Publishers, geskryf in ’n ontleding van McRae se outobiografie, The Test of Leadership.

Yelland het Sondag hulde gebring aan McRae, “ ’n reus in Suid-Afrika se kragopwekkingseenhede”.

Meer oor:  Eskom  |  Ian Mcrae  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.