Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘SA staatsbates nie verkoopbaar nie’

Om Eskom te privatiseer is nié die oplossing vir die kragverskaffer se probleme nie en kan elektrisiteitspryse trouens die hoogte laat inskiet, sê André de Ruyter, uitvoerende hoof.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

Dis volgens hom wensdenkery dat die staat se Eskom-bates in ’n soort brandskade-verkoping van die hand gesit kan word met die verwagting dat die private sektor sal inkom sonder reuse-prysstygings om binne die oorblywende tien jaar van die bates se leeftyd ’n opbrengs te verseker.

De Ruyter meen sekere dele van Eskom, soos die transmissienetwerk, kan nie geprivatiseer word nie omdat dit dié natuurlike monopolie uit staatsbeheer in private hande sal plaas. Daarvoor sal uitsonderlike regulasies van krag moet wees om te keer dat die monopolie misbruik word deur private maatskappye wat op wins ingestel is.

“As jy ’n natuurlike monopolie privatiseer, kan dit lei tot die onttrekking van monopolietariewe deur private rolspelers,” het hy Woensdagaand op ’n paneelbespreking van die Universiteit van Pretoria (UP) se Alumni-kantoor gesê.

Volgens De Ruyter is die gehalte van staatsbates belangrik as jy dit van die hand wil sit.

“As jy weet van enige belegger wat ’n 40 jaar oue kragstasie wil koop wat swak onderhou is, groot belegging vereis om dit aan omgewingstandaarde te laat voldoen, wat reuse-onderhoudskoste verg en ’n leeftyd van net tien jaar het, sal ek hom graag wil ontmoet.”

Dit is nie verkoopbare bates nie. Daarom is die departement van openbare ondernemings se plan om ’n omgewing te skep waar die verouderde bates vervang word deur nuwe bates wat deur die private sektor gefinansier en bedryf word.

As ons oor privatisering praat, moet ons mooi dink oor hoe staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) gestruktureer word om private kapitaal vir belegging in kragopwekkingsvermoë te lok.
André de Ruyter

De Ruyter sê so beweeg jy stelselmatig na groter betrokkenheid deur die private sektor en ’n situasie waar private maatskappye doeltreffendhede in die elektrisiteitsketting kan ontsluit.

“As ons oor privatisering praat, moet ons mooi dink oor hoe staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) gestruktureer word om private kapitaal vir belegging in kragopwekkingsvermoë te lok.”

Volgens hom het die staat nie genoeg geld nie en moet private beleggers vertroue hê om te belê, maar terselfdertyd moet verbruikers beskerm word teen hoë tariewe wat uit ’n private monopolie kan spruit.

“Daar moet ’n balans wees in private maatskappye se winsoogmerk, geldige maatskaplik-ekonomiese oogmerke en hoe private maatskappye in die lig van die winsmotief besluit oor hoe geld bestee word en die onderneming bestuur word.”

Thomas Kgokolo, tussentydse uitvoerende hoof van die SAL, stem saam dat wanneer private maatskappye op die terrein van SBO’s betrokke raak, is wins een van die belangrikste oorwegings en skuif dit werknemers- en omgewingsbelange op die agtergrond.

Hy sê ’n groot deel van SBO’s se inkomste gaan na die staatskas en versterk die regering se finansiële posisie. Die staat kan heelwat inkomste verbeur as belangrike SBO’s geprivatiseer word.

Volgens Kgokolo bevind die SAL hom in ’n uiters mededingende sake-omgewing. In Suid-Afrika lyk dit dalk na ’n groot lugdiens, maar vanuit ’n kommersiële oogpunt is die SAL klein in die wêreldmark waar hy meeding met lugdienste wat ’n sterk balansstaat het en tans baie koste kan absorbeer met lae opbrengste.

“Dit is net dié met baie geld, wat kontant kan brand, wat nou vlieg.”

Hy glo nie die Suid-Afrikaanse regering het die balansstaat om in dié mark mee te ding nie en dít bied ’n goeie saak vir privatisering of die betrokkenheid van ’n strategiese private ekwiteitsvennoot.

Vir ’n sterk balansstaat, asook vir kundigheid oor die lugvaartbedryf en om ’n netwerk en blootstelling aan internasionale markte te bring, het die SAL ’n vennoot of vennote uit die private sektor nodig.

Dr. Wesley Rosslyn-Smith, ’n senior lektor in sakeredding en regrukstrategie by die UP, sê uit die literatuur blyk dit die SBO’s wat in ’n mededingende omgewing geprivatiseer word, skep eerder poste as wat poste afgeskaf word.

Volgens dr. Tshepiso Scott, ’n lektor in handelsreg aan die UP, bedien baie SBO’s – soos Prasa – kwesbare verbruikers en is dit hul enigste keuse.

Lesse uit ander lande wys waar daar ’n element van privatisering was, neig die eenheidsprys van goedere of dienste laer vanweë groter mededingendheid. Omdat verbruikers die beste diens teen die beste prys kan kies, is daar ook mededinging tussen rolspelers op grond van pryse.

Meer oor:  Eskom  |  André De Ruyter  |  Beleggings  |  Privatisering  |  Kragkrisis  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.