Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
SA wil miljarde mors op hidrokrag

Die regering beur voort met sy plan om hidro-elektriese krag van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in te voer ten spyte van waarskuwings dat dit Suid-Afrikaners miljarde meer sal kos.

Inwoners van Bumba in die Demokratiese Republiek van die Kongo roei in dié argieffoto in die Kongorivier af. Die rivier is ’n lewensaar vir miljoene mense, wat dit gebruik om van plek tot plek te kom en handel te dryf. Dit kan ingeperk word indien die Grand Inga-projek vir hidrokrag voltooi word. Foto: Getty Images

Die Wêreldbank, wat aanvanklik finansiering vir die Grand Inga-projek sou verskaf, het hom onttrek – en verskeie organisasies waarsku lande om van dié projek weg te bly.

Selfs ANC-LP’s se besware het nie ’n impak gehad toe die parlementêre portefeuljekomitee oor energie die afgelope week weer vergader het oor die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) nie. Dié komitee oorweeg kommentaar oor die konsep-IRP wat in Augustus gepubliseer is om die land se energieplan uit te stippel.

City Press het vroeër berig die IRP maak voorsiening vir twee “beleidsaanpassings” wat om politieke redes ingesluit is: Die een is om twee private steenkoolkragstasies toe te laat en die ander is die DRK-projek.

Luidens die konsep-IRP sal dié beleidsaanpassings verbruikers teen 2050 ’n bykomende R350 miljard kos in huidige randwaarde.

Suid-Afrika het in 2014 ’n verdrag met die DRK onderteken om die Grand Inga-projek te ondersteun en meer as die helfte van die elektrisiteit te koop wat die eerste fase sal oplewer.

Die projek, die “grootste hidroprojek ter wêreld”, sal glo met 52 turbines in die Kongorivier 39 000 MW se krag opwek.

Om voorsiening te maak vir Suid-Afrika se belofte, is aankope van Inga-krag by die IRP ingesluit.

Die komitee het 41 geskrewe en 38 mondelinge voorleggings oor die IRP bestudeer en stel nou ’n verslag hieroor saam met aanbevelings wat aan die minister gegee gaan word.

Suid-Afrika het in 2014 ’n verdrag met die DRK onderteken om die Grand Inga-projek te ondersteun en meer as die helfte van die elektrisiteit te koop wat die eerste fase sal oplewer.

Die insluiting van die Grand Inga-projek het wyd kritiek ontlok, onder meer omdat daar onsekerheid is oor of die projek ooit voltooi sal word.

Die komitee se voorlopige verslag stel dit duidelik dat die openbare mening is dat Inga uit die IRP gehaal moet word. Maar lede verskil oor of hulle moet aanbeveel dit moet uitgegooi word, omdat dit polities sensitief is.

Tandi Mahambehlala, ANC-LP, het gesê die feite moet gegee word dat daar politieke onstabiliteit in die DRK bestaan.

Jan Esterhuizen (IVP) het hom sterk teen die projek uitgespreek: “Die Grand Inga is al van die begin af gebrekkig. Ek dink nie eens (pres. Joseph) Kabila weet wat daar aangaan nie.”

Hy het ook verwys na ’n studie van die Universiteit van Kalifornië (Berkeley) wat bevind het dit sal R400 miljoen meer per jaar kos om Inga-krag in te voer as om plaaslike krag te koop.

“Die Wêreldbank het ook al sy geldkraantjie (vir die projek) toegedraai.”

Hierop het Thembi Majola, adjunkminister van energie, gesê: “Ek weet nie van hierdie R400 miljoen nie.”

Esterhuizen het sy iPad met ’n berig oor die studie vir haar gewys.

“Jou bron is verkeerd,” het Majola onderlangs aan hom gesê. “Dit is onwetenskaplik.”

In Esterhuizen se volgende spreekbeurt het hy gesê sy stellings is onbetwisbare feite. “As ons nie eens meer die Wêreldbank kan glo nie, dan weet ek nie.”

Hierop het Fikile Majola, komiteevoorsitter, gesê: “Laat ons nie baklei oor wat die Wêreldbank sê nie. Ek hou nie van hulle nie. Geloofwaardigheid is relatief.”

Die Wêreldbank het in Julie 2016 besluit om nie meer die $73 miljoen vir die projek te gee wat in Maart 2014 deur die bank goedgekeur is nie. Teen daardie tyd is 6% van dié geld reeds vir die projek gegee. Foto: Reuters

Die adjunkminister het ’n tussenwerpsel ingegooi: “Laat hulle ons nie regeer nie!”

En die voorsitter het voortgegaan: “Ons as Suid-Afrikaners sal self besluit.”

Die Wêreldbank het in Julie 2016 besluit om nie meer die $73 miljoen vir die projek te gee wat in Maart 2014 deur die bank goedgekeur is nie. Teen daardie tyd is 6% van dié geld reeds vir die projek gegee.

Die bank het oor sy besluit gesê: “Dit volg op die regering van die DRK se besluit om die projek strategies in ’n ander rigting te stuur as waarop ooreengekom is.”

Die omgewingsorganisasie International Rivers het dit geïnterpreteer as ’n bevestiging van kommer dat basiese omgewings- en verkrygingsnorme nie nagekom word nie. “Enige ander beleggers moet twee keer dink voordat hulle by dié wit olifant betrokke raak.”

Intussen het die regering van die DRK in Oktober gesê ’n ooreenkoms van $14 miljoen is gesluit met ’n konsortium ontwikkelaars van China en Europa.

Die ooreenkoms kom aan die vooraand van die nasionale verkiesing in Desember in die DRK.

International Rivers is teen die projek gekant omdat hulle glo die projek sal tot voordeel van internasionale mynmaatskappye wees eerder as die bevolking van die DRK, en dat dit tot growwe menseregteskendings sal lei – onder meer deur grootskaalse ontworteling.

Die komitee vergader weer dié week om sy voorstelle te finaliseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.