Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sal SA ooit krag van Kongo se Inga kry?
inga
Die Ingadam in die weste van die Republiek van die Kongo. Foto: Wikipedia

Gaan Suid-Afrika ooit enige elektrisiteit van die Inga-projek in die Kongorivier kry?

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, het Dinsdag gewys op die koste van R4,3 miljard net om die kraglyne van die Kongo na Suid-Afrika te verleng.

Hy wou op ’n vergadering van die parlement se portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne en energie weet of dié koste ingereken is in die nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP).

Boonop verstryk Suid-Afrika se ooreenkoms met die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) ingevolge waarvan Suid-Afrika sowat 2 500 MW se krag van die Inga-projek sal koop, teen 2023, terwyl in die IRP2019 beoog word dat Suid-Afrika teen 2030 krag van Inga sal kry.

Dan is daar nuusberigte dat die Spaanse en Chinese konsortium wat aangestel is om die Inga-projek te bou, uitmekaar gespat het.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het aan die komitee gesê China en Spanje vergader juis Dinsdag oor die toekoms van die Inga-projek.

Gaskragstasies

Nuwe gaskragstasies kan eers teen 2024 krag lewer, daarom is battery-kragopberging nodig teen 2022, het Jacob Mbele, adjunk-direkteur-generaal van energie, aan die komitee verduidelik. Dié batterykrag sal egter nie die goedkoopste opsie wees nie, maar daar is nie teen daardie tyd ’n alternatief om die gapings in kragvraag te vul nie.

In die konsepweergawe van die jongste IRP is verwag dat 8 000 MW se gaskragstasies nodig sal wees in die tydperk tot 2030.

Maar die finale IRP2019 verwag net 3 000 MW se gaskragstasies in die tydperk omdat dit vyf tot ses jaar sal duur om die nodige gasinfrastruktuur te skep, het Mbele gesê.

Dieselkragopwekking

Die groei in kragvraag wat in die kragplan van 2010 verwag is, het nie gerealiseer nie, het Mantashe verduidelik.

Sedert 2010 het kragpryse skerp gestyg en die vraag na krag het gedaal. Daar is minder intensiewe nywerheidskraggebruikers. Die meeste smelters van minerale soos mangaan is in berging geplaas.

Weens die gebrek aan betroubaarheid van Eskom se kragstasies het die gebruik van dieselkragopwekking toegeneem.

“Sodra jy diesel vir kragopwekking gebruik, moet jy weet jy is in die moeilikheid,” het Mantashe gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.