Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol: Dís wat fout gegaan het by Lake Charles
Die Lake Charles-aanleg in ’n vroeë stadium van konstruksie. Dié aanleg is nou 99% voltooi, sê Sasol. Foto: Sasol VSA

’n Klimaat van vrees en leiers wat nie bevoeg was om ’n projek van dié skaal te hanteer nie, is hoekom die petrochemiese reus Sasol nou bykans $13 miljard vir sy Lake Charles-projek in die VSA moet opdok.

Dit blyk uit die onafhanklike verslag van die ondersoek wat Sasol laat doen het nadat hy op 22 Mei die mark geskok het met ’n aankondiging dat faktore by dié projek hom genoodsaak het om sy vooruitsigte vir die koste aan te pas.

Sasol het Maandagoggend vroeg die bevindinge van die verslag op die JSE se nuusdiens, Sens, gepubliseer. Sien ook grafika hieronder wat verduidelik wat presies gebeur het. 

Hy het ook aangekondig buiten dat hy reeds die vier senior bestuurslede wat in die VSA vir dié projek verantwoordelik was, afgedank het, ook albei sy uitvoerende hoofde van die groep hul bedankings ingedien het.

Stephen Cornell en Bongani Nqwababa, die maatskappy se twee mede- uitvoerende hoofde, gaan boonop ook nie hul korttermynbonusse vir die jaar ontvang nie.

LEES OOK: Sasol se aandeelhouers dividend kwyt

Dr. Mandla Gantsho, uittredende voorsitter van Sasol se direksie, wat kort ná die aankondiging op Sens via ’n telefoonkonferensie met die media gepraat het, het dit beklemtoon dat daar geen bewyse is dat een van die twee hoofde verantwoordelik was vir die probleme by Lake Charles nie.

“Dit het egter onder hul toesig gebeur, so dit is hoekom hulle bedank het,” sê hy.

Fleetwood Grobler, wat al 35 jaar by Sasol werk en in April aangestel is om die Lake Charles-projek te bestuur, is van 1 November as nuwe uitvoerende hoof aangestel.

Dié drastiese stappe volg nadat daar in Mei skielik gevind is dat die chemiese aanleg naby die stad Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana uiteindelik ’n allemintige $12,9 miljard gaan kos om te voltooi.

Toe Sasol die projek vier jaar gelede begin het, het hy gereken dit sou “net” $8,9 miljard kos.

Hy het egter nie die verslag oor die ondersoek self uitgereik nie.

Gantsho sê hul regspan het die maatskappy aangeraai om nie die verslag of ’n verkorte weergawe daarvan te publiseer nie.

Wat Sasol wel bereid is om te sê oor wat fout gegaan het, is as volg:
  • Die bestuurders van die projek het nie die nodige ervaring gehad om ’n mega-projek soos Lake Charles te hanteer nie;
  • Die bestuur het nie na behore opgetree nie. Hulle het ook ’n skrikbewind gevoer waar daar ’n kultuur van vrees was wat verhinder het dat meer junior werknemers oor ongerymdhede verslag doen;
  • Daar was nie behoorlike skeiding tussen die verskillende verantwoordelikhede vir die projek nie. Dit het daartoe gelei dat probleme nie geïdentifiseer is nie;
  • Daar was nie behoorlike kontrole oor prosedures nie. Dit het onder meer daartoe gelei dat daar nie na behore met die direksie gekommunikeer is nie;
  • Daar was nie behoorlike prosesse om interne klagtes te hanteer nie; en
  • Werknemers was “oorywerig” om oor goeie resultate en vordering verslag te doen wat by die gepubliseerde skedules sou pas.

Remediërende stappe

Buiten die skuiwe wat betref die bestuur by Lake Charles het Sasol ook die volgende remediërende stappe gedoen:

Ander individue, buiten die senior bestuur wat reeds die deur gewys is, wat ook by die projek betrokke is, se bonusse sal geherevalueer word.

  • Grobler sal steeds verantwoordelikheid neem vir die oorsig oor die projek;
  • ’n Nuwe beheerstruktuur is geïmplementeer;
  • Die kontroles vir hoe daar oor koste verslag gedoen is, is herontwerp om te verseker dat daar ’n skeiding is van pligte en om te verseker daar is toepaslike oorsig;
  • Bykomende eksterne studies is gedoen oor die maatskappy se ramings rakende die koste en skedule van die projek;
  • Dissiplinêre stappe is ingestel. Die voormalige uitvoerende adjunkpresident verantwoordelik vir die projek asook ander senior bestuurslede is reeds van die projek verwyder;
  • Daar word nou vereis dat werknemers bykomende toepaslike opleiding ontvang;
  • Die finansieringsfunksie is hersien met ’n spesifieke fokus oor hoe Sasol sy besigheid in die VSA ondersteun. ’n Onafhanklike ouditkomitee sal dié proses lei;
  • Daar word gefokus op leierskapsontwikkeling; en
  • Die maatskappy se prosedures rakende die eskalering van klagtes oor onetiese gedrag en die bevindings van interne ondersoeke word hersien.

Sasol sê die projek is nou 99% voltooi en daar is reeds $12,2 miljard daaraan bestee.

Die etaankraker is reeds in Augustus in bedryf gestel.

sasol

Meer oor:  Sasol  |  Bedankings  |  Maatskappye  |  Petrol  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.