Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol: Dorp boos oor ‘verpligte inenting óf toets’

Sasol-werknemers of werknemers van diensverskaffers van Sasol wat nie betyds ingeënt kan word teen Covid-19 nie of hulle nie wíl laat inent nie, sal dalk R3 400 moet opdok vir verpligte weeklikse Covid-19-toetse.

’n Blik op Sasol se aanleg by Secunda in Mpumalanga. Foto: Sasol

Sasol begin op 30 Augustus met jaarlikse instandhoudingswerk by sy enorme Secunda-aanleg.

Dit sal beteken sowat 8 000 Sasol-werknemers en nog 11 000 werknemers van diensverskaffers – dus 19 000 mense – sal gelyktydig op die perseel wees vir die duur van die instandhouding tot 24 September.

Om te voorkom dat dié projek ’n superverspreidergeleentheid word, vereis Sasol nou dat mense óf ingeënt is óf elke week ’n Covid-19-toets op hul eie koste laat doen.

Dié inligting blyk uit ’n brief gedateer 27 Julie van die Sasol-bestuur aan werknemers waartoe Netwerk24 insae gehad het.

Dit blyk sekere dele van die gemeenskap in Secunda is erg gekant teen Covid-19-inentings.

Sommige werknemers en kontrakteurs het reeds regskenners genader om namens hulle met Sasol oor die aangeleentheid te praat. Die vakbond Solidariteit – wat voorheen gesê het hy sal hof toe gaan as maatskappye inentings aan hul werknemers opdwing – is ook om hulp genader.

Indien beswaarmakers regstappe doen, kan dit ’n toetssaak word vir werkgewers se hantering van werknemers wat weier om hulle teen Covid-19 te laat inent.

Hoewel Sasol sy werknemers aanmoedig om hulle vrywillig teen Covid-19 te laat inent, het hy op grond van ’n risiko-ontleding bevind die instandhoudingstyd is ’n unieke gebeurtenis wat ’n hoë risiko inhou, luidens die brief aan werknemers.

Baie mense sal van ander gebiede na Secunda kom.

Daarom sal Sasol vereis dat werknemers moet kan bewys dat hulle ingeënt is voordat hulle die perseel betree.

R3 400 vir 4 toetse

Dié wat nie betyds ingeënt is nie of kies om nie ingeënt te word nie, sal ’n negatiewe Covid-19-toetsuitslag moet kan wys wat nie ouer as sewe dae is nie.

Dit impliseer werknemers sal hulle vir die instandhoudingstyd van vier weke een keer per week moet laat toets.

Hoewel die brief dit nie aandui nie, beweer dieselfde bron Sasol dring aan op die volledige laboratoriumtoets, oftewel die PCR-toets, wat R850 per toets kos. Die antigeentoets kos R350.

Die regering het in Junie bevestig dat werkgewers in sekere omstandighede hul werknemers wel kan verplig om ingeënt te word. Dit is waar ’n risikobepaling gedoen is en bevind is dat die risiko vir infeksies hoog is.

Hoewel regskenners vroeër aangedui het ’n werkgewer sal in sulke gevalle werknemers kan afdank as hulle dan steeds inenting weier, het Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, beklemtoon werkgewers moet behoorlik konsulteer en werknemers se regte in ag neem.

In die brief het die Sasol-bestuur aangedui hulle het die departement van gesondheid van Mpumalanga en die nasionale departement van gesondheid genader om te help met ’n massa-inentingsveldtog vir sy werknemers, asook dié van sy diensverskaffers.

Iemand in die Secunda-gemeenskap wat met Netwerk24 gesels het, maar nie geïdentifiseer wil word nie, is egter ontsteld oor wat as “korporatiewe boeliegedrag” bestempel word.

Sasol is om kommentaar genader, wat bygewerk sal word sodra dit ontvang is.

In ’n Facebook-video wat versprei word, het die aktivis Debbie Els aangedui sy gaan na Secunda opruk en ’n dringende hofaansoek teen Sasol oor die “verpligte inentings” bring.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sasol  |  Secunda  |  Chemikalieë  |  Gedwonge Inentings  |  Inentings  |  Brandstof  |  Verpligte Inenting  |  Sasol-Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.