Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol gee toe: ‘Ons besoedel te veel’

Sasol sal ongetwyfeld meer moet doen om minder omgewingsbesoedeling te veroorsaak. Veral sy aanleg in Secunda in Mpumalanga is die groot sondaar, het Shamini Harrington, adjunkpresident belas met klimaatverandering by Sasol, Dinsdag in ’n gespreksessie in die petrochemiese reus se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, gesê.

Sasol se aanleg in Secunda.Foto: Argief

Volgens hom is sy bedrywighede in Secunda verantwoordelik vir 84,9% van die kweekhuisgasse wat Sasol wêreldwyd vrystel.

Marius Brand, Sasol se adjunkpresident belas met tegnologie, sê daar is baie wat gedoen kan word om Secunda ’n “groener” aanleg te maak.

“Ons kyk na twee aspekte wat hierdie aanleg betref.

“Aan die een kant kan ons kyk wat gedoen kan word om die bedryf van die aanleg omgewingsvriendeliker te maak, maar aan die ander kant kan ons ook kyk hoe die proses self aangepas kan word,” sê Brand.

Brand sê deur bloot nuwe toerusting te installeer wat energie meer verbruik, kan die hoeveelheid kweekhuisgasse wat die aanleg produseer, klaar beduidend verminder word.

“Ons kyk ook hoe ons van die energiebron – in dié stadium steenkool – na ’n ander bron kan oorskakel.”

Volgens Sasol se verslag oor die klimaatkrisis word veral gekyk of aardgas eerder as energiebron by Secunda ingespan kan word.

Brand sê Sasol het reeds sy aanleg in Sasolburg aangepas om aardgas te gebruik.

“Ons gebruik net steenkool om krag op te wek om die aanleg te bedryf en nie vir die produksie van brandstof nie.”

Tans voer Sasol aardgas van Mosambiek in.

(Sasol se aanleg in Secunda) is nie net ’n aanleg wat steenkool in brandstof omskep nie, dit is ook basies vier steenkoolkragstasies in een, net om hom in bedryf te hou.
Shamini Harrington

Wat sy steenkoolmyne betref, sê Herman Wenhold, hoof van volhoubaarheid, gaan dié myne vir eers in bedryf bly.

Sasol reken daarop dat hy nog tot 2050 steenkool by van sy bedrywighede gaan gebruik.

Hoewel Sasol sê hy is daartoe verbind om uitlaatgasse te verminder, erken hy daar is nog baie werk wat gedoen moet word om die presiese koste en invloed op sy arbeidsmag op lang termyn vas te stel.

Hy beoog wel om teen 2030 10% minder kweekhuisgasse by sy Suid-Afrikaanse bedrywighede vry te stel as wat hy tans doen.

Hoe vuil is Secunda?

Sasol se aanleg in Secunda is sonder twyfel ’n groot bron van uitlaatgasse.

“Dit is nie net ’n aanleg wat steenkool in brandstof omskep nie, dit is ook basies vier steenkoolkragstasies in een, net om hom in bedryf te hou,” sê Harrington.

Sasol koop wel sowat 600 MW elektrisiteit by Eskom om die aanleg in bedryf te hou, maar die res wek hy self op.

“Om Secunda se bydrae tot die vrystelling van kweekhuisgasse in perspektief te stel, moet onthou word dat Suid-Afrika in totaal verantwoordelik is vir 1,3% van die kweekhuisgasse wat vrygestel word,” sê Brand.

“Sasol is op sy beurt weer verantwoordelik vir 10% van die totale Suid-Afrikaanse bydrae.”

Lake Charles

Sasol se nuwe aanleg in Lake Charles in Amerika mag dalk groot druk op sy balansstaat plaas, maar hy maak ’n goeie bydrae wanneer dit by uitlaatgasse kom.

Luidens Sasol se verslag gaan dié chemiese reus net verantwoordelik wees vir 2,5% van die kweekhuisgasse wat Sasol wêreldwyd genereer.

Die rede hoekom dié aanleg so groen is, is omdat dit ontwerp is om sy invloed op die omgewing te beperk.

Beleggers vra meer inligting

Jon Duncan, hoof van verantwoordelike beleggings by Old Mutual Investment Group en wat 'n groep beleggers in Sasol verteenwoordig, sê hulle sal heelwat meer besonderhede oor Sasol se planne met uitlaatgasse wil hoor wanneer dié firma sy jaarvergadering op 27 November hou.

Hy sê in 'n verklaring wat Dinsdagmiddag uitgereik is: “Ons besorgdheid is veral dat Sasol dit nie duidelik in sy verslag stel of die soorte onthullings wat hy in sy November 2020-padkaart gaan maak, in ooreenstemming is met die Parys-klimaatsooreenkoms nie. Daar word ook nie gesê hoe dit gekoppel sal word aan die uitvoerende bestuur se vergoeding wat betref kort- en langtermyn bonusse nie.”

Die groep beleggers wat Sasol versoek om op die jaarvergadering méér oor sy omgewingsverslag te sê, is:

  • Old Mutual Investment Group
  • Sanlam Investment Managers
  • Abax
  • Coronation
  • Aeon Investment Management
  • Mergence Investment Managers

Harrington het tydens die gespreksessie vroeër die dag oor prestasiebonusse van senior bestuur gesê dat die besonderhede hiervan nog vasgestel moet word.

“Ons as bestuur moet aangespoor word om die regte besluite te neem, maar ons moet ook verantwoordelik gehou word daarvoor.”

Meer oor:  Sasol  |  Secunda  |  Brandstof  |  Koolstof  |  Klimaatsverandering  |  Omgewingsake  |  Besoedeling  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.