
Sasol wil sonkrag-PV-fasiliteite by sy aanlegte in Secunda en Sasolburg laat bou. Foto: Unsplash
Sasol wil sonkragaanlegte by twee van sy fasiliteite laat bou.
Die petrochemiese reus sê Maandag in ’n verklaring hy nooi belangstellendes om voorstelle te stuur om aanlegte met ’n kapasiteit van 10 MW by sy aanlegte in Secunda in Mpumalanga en in Sasolburg in die Vrystaat te bou.
Hermann Wenhold, hoof van volhoubaarheid by Sasol, sê in die verklaring dié uitnodiging volg op sy versoek in Mei dat belangstellendes voorstelle maak oor hoe hy uiteindelik 600 MW se groen krag van onafhanklike kragprodusente kan koop.
Hy het toe reeds gesê dat hy na opsies naby sy fasiliteite in Sasolburg en Secunda kyk.
Die maatskappy sê hy hoop dat die gebruik van groen krag sal help dat hy met sy bedrywighede 1,6 miljoen ton kweekhuisgasse minder per jaar in die atmosfeer sal vrystel.
“Daar sal van die suksesvolle bieërs verwag word om die sonkrag-PV-fasiliteite en hul gepaardgaande verbindingsinfrastruktuur te ontwerp, finansier, bou, bedryf, onderhou en te besit om sodoende op eie koste 10 MW krag aan elk van Sasol se bedrywighede te lewer. Die suksesvolle bieër(s) sal as onafhanklike kragprodusent(e) ingevolge ’n langtermyn-kragkoopooreenkoms elektrisiteit vanaf die sonkrag-PV-fasiliteite aan Sasol lewer,” lui die verklaring.
Belangstellende partye kan Sasol by solarpvfarm@sasol.com kontak vir meer inligting. Voorstelle moet teen Vrydag 2 Oktober ingedien word.