Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol ly verlies van R91,3 mjd.
Sasol se aanleg in Secunda. Foto: Bloomberg

Die petrochemiese reus Sasol het in die boekjaar tot einde Junie ’n verlies van R91,3 miljard gely.

Sasol sê Maandagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, die rede hiervoor is oliepryse wat in die tweede helfte van die boekjaar in duie gestort het, ’n drastiese afname in die vraag na sy produkte en waardedalings van R111,6 miljard.

In die vorige boekjaar was Sasol se verdienste R6,1 miljard.

’n Ligpunt is wel dat sy aanleg in Lake Charles in Amerika in die tweede helfte van die boekjaar ’n verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) van R100 miljoen getoon het vergeleke met die verlies van R1,1 miljard in die eerste helfte van die boekjaar.

Die projek het Sasol se resultate egter steeds geknou weens ’n waardeverminderingskoste van ongeveer R3,9 miljard en finansieringskoste van R6 miljard wat ingereken moes word namate die aanleg in bedryf gestel is.

Sasol het ’n wesensverlies per aandeel van R11,79 gely teenoor 'n wesensverdienste van R30,72 in die vorige boekjaar.

Gedurende die jaar het hy R42,4 miljard kontant uit sy bedrywighede gegenereer, wat 18% minder is as in die vorige boekjaar.

Sasol sê hy het sy bedryfskoste en kapitaaluitgawes drasties verminder.

Hy het R9,2 miljard in bedryfskapitaal bespaar en R6 miljard minder aan kapitaaluitgawes bestee as wat beplan was.

Lake Charles

Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof van Sasol, het Maandagoggend in 'n aanlyn voorlegging oor die maatskappy se resultate gesê die konstruksie van dié aanleg is voltooi.

Die aanleg produseer reeds op 100% van sy kapasiteit ten opsigte spesiale chemikalieë. In geheel is die aanleg sowat 86% in bedryf.

Sasol sê hy is nog besig om sy laedigtheid-poliëtileeneenheid (LDPE) te herstel nadat ’n brand in Januarie groot skade hier aangerig het.

LEES OOK: Eina vir Sasol op JSE ná brand in Amerika

Grobler sê waar daar voorheen beplan was om die LDPE in September vanjaar ten volle in bedryf te stel, sal dit nou in Oktober gebeur.

Grobler het bevestig dat die aanleg Sasol steeds $12,8 miljard kos.

Die maatskappy sê die koronaviruspandemie het ’n beperkte invloed op sy Amerikaanse bedrywighede gehad.

Skuld

Sasol wil teen Junie 2021 $6 miljard van sy skuld terugbetaal deur die verkoop van bates, het hy vroeër vanjaar met die bekendmaking van sy halfjaarsyfers gesê.

Sasol se skuldlas beloop R189,7 miljard teenoor R130,9 miljard ’n jaar gelede.

Hiervan is sowat R174,6 miljard ($10 miljard) in dollar.

Sasol het geen dividend verklaar nie.

Grobler en Paul Victor, finansiële hoof, het Maandagoggend bevestig dat die maatskappy steeds ’n enorme regte-uitgifte beplan.

Victor sê ’n regte-uitgifte van $2 miljard word vir die tweede helfte van die 2021-boekjaar beplan.

Dit is onderhewig aan aandeelhouers se goedkeuring.

Dit beloop sowat ’n derde van die maatskappy se huidige markwaarde van R91,7 miljard.

Die maatskappy het voorheen gesê dat dit die laaste uitweg sal wees om sy skuld te verminder.

Grobler en Victor het bevestig dat die maatskappy goed vorder met die verkoop van bates. Die maatskappy het ook ooreenkomste met banke heronderhandel oor die betaling van sy skuld.

Victor sê ’n besluit oor die bedrag van die regte-uitgifte, sal slegs geneem word nadat die skuldsituasie hersien is.

Sasol se aandeelprys op die JSE het kort nadat verhandeling Maandag begin het, met sowat 9% tot R133,20 gedaal.

Meer oor:  Sasol  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.