Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol moet dalk terugbetaal vir gas uit pypleidings

Die energiereus Sasol moet moontlik terugbetalings doen aan nywerhede wat sedert 2014 te veel betaal het vir pypleidinggas.

’n Blik op Sasol se aanleg by Secunda in Mpumalanga. Foto: Sasol

Nersa moet binnekort sy besluit finaliseer oor die maksimum prys wat Sasol vir die verkoop van pypgeleide aardgas mag hef.

Die konstitusionele hof het in 2019 beslis dié prys, wat vasgestel word vir die periode vanaf 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2023, sal terugwerkend tot 2014 geld.

Die hooggeregshof in Pretoria het dié week in ’n aansoek van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Nywerheidsgebruikers van Gas (IGUA-SA) beslis die tydperk sluit alle betalings in tot 2020.

Alle aanduidings is dat die nuwe maksimum prys heelwat laer gaan wees as die oorspronklike, wat deur die hof ter syde gestel is.

Of Sasol en ander rolspelers Nersa se besluit gaan aanvaar, sal die tyd moet leer.

Sasol het ’n monopolie op die verkoop van pypgeleide aardgas wat hy van Mosambiek invoer en Nersa stel daarom ’n maksimum prys vas waarteen die groep die gas mag verkoop in elk van ses volumeklasse. Met dié maksimum prys in gedagte, onderhandel die koper en verkoper oor ’n spesifieke prys wat vir dié koper geld.

In 2013 het Nersa metodologie gevolg wat gegrond was op die koste van ’n mandjie van alternatiewe energiebronne, insluitend elektrisiteit. Elk van dié alternatiewe het ’n sekere gewig gedra.

Gasgebruikers het gemeen die maksimum prys waarop dié metodologie uitgewerk het, was hopeloos te hoog en het hulle tot die hof gewend.

Die saak het in die konstitusionele hof gaan draai, waar die metodologie in 2019 ter syde gestel is. Nersa is aangesê om ’n nuwe metodologie te ontwikkel wat die maksimum prys vasstel asof dit in ’n mededingende mark is.

Nersa het eers verlede jaar sy nuwe metodologie gefinaliseer, wat onder meer die gaspryse op internasionale markte in ag neem.

Volgens Jaco Human, uitvoerende beampte van die IGUA-SA, sal veral kleiner gebruikers na verwagting by terugbetalings baat vind. Vir groot gebruikers lyk dit of daar nie veel van ’n verskil gaan wees tussen die prys wat gehef is en die terugwerkende maksimum prys nie, met uitsondering van die afgelope 12 maande.

Sasol het egter reeds in Desember verlede jaar ’n aansoek by Nersa ingedien om van die nuwe metodologie af te wyk en as dié aansoek slaag, kan die nuwe maksimum prys weer opwaarts aangepas word én enige van die partye kan ook die jongste Nersa-besluit op hersiening neem.

Die onafhanklike ekonoom Elize Kruger sê egter die veranderinge aan die regulatoriese omgewing lui ’n nuwe fase in vir die pypleidinggasbedryf. “Gaspryse behoort laer te neig in ooreenstemming met die laer maksimum pryse in die nuwe bedeling en sal ’n bydrae lewer om die sekondêre sektor van die ekonomie te ondersteun, veral in die vervaardigingsektor,” sê sy.

Kruger sê Nersa is stadig om die finale besluite oor te dra, wat maak dat daar steeds onsekerheid oor die toekoms heers.

Meer oor:  Nersa  |  Sasol  |  Mosambiek  |  Brandstof  |  Gas  |  Aardgas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.